Ná die moord op haar man, Johann, het Mariandra Heunis (32) Woensdagmiddag hul baba, André Johann, in die wêreld verwelkom.

[caption id="attachment_140543" align="alignnone" width="600"]Klein André Heunis is Woensdag met 'n keisersnee gebore. Foto: Verskaf Klein André Heunis is Woensdag met 'n keisersnee gebore. Foto: Verskaf[/caption]

Dié ma van drie dogters was hoogswanger met klein André toe indringers byna twee weke gelede by die gesinswoning op ’n kleinhoewe buite Pretoria inbreek en haar man (43) koelbloedig voor haar doodskiet.

Dit was reeds beplan dat sy Woensdag ’n keisersnee sou ondergaan. Dis toevallig ook haar verjaardag. Klein André is Woensdagmiddag kort ná tweeuur gebore. Hy het 2.7 kg geweeg.

“André se geboorte is haar verjaardaggeskenk,” vertel Dennis Lloyd, ’n jarelange vriend, aan Huisgenoot. Hy verduidelik André is na sy oupa, André, en pa, Johann, genoem.

Dennis het deur die loop van die dag by Mariandra gaan inloer en bevestig dit gaan goed met ma en seun.

Johann se lewe is ’n week gelede tydens ’n spesiale roudiens gevier. Die aand tevore het sy dogters, Mieke, Mischa (4) en Majandré (2), die geleentheid gehad om hul pappa te groet deur met hul handjies op sy kis te verf.

Die egpaar se oudste dogter, Mieke (6), het volgens Dennis telkens gevra of sy kan aanhou verf. Tydens die inbraak het Mieke haar teen die inbrekers verset en aangebied om haar spaargeld vir hulle te gee.

Dis toe dat die rowers op haar losbrand en sy uit haar ouers se kamer vlug. Mieke het spesiaal ’n hartjie tussen haar sussies se handafdrukke op hul pa se kis geverf.

[caption id="attachment_140544" align="alignnone" width="600"]Mariandra en Johann Heunis. Baba André Heunis is Woensdag gebore. Foto: Verskaf Mariandra en Johann Heunis. Baba André Heunis is Woensdag gebore. Foto: Verskaf[/caption]

Tydens sy roudiens het rouklaers ook briefies aan Johann in ’n voëltjiehok gesit wat saam met sy kis in die lykswa gesit is.

Kort ná die voorval het die gemeenskap hande gevat om die Heunis-gesin by te staan. Hulle is intussen elders in Pretoria gevestig. Mariandra het ook ’n silwer hangertjie met haar oorlede man se vingerafdrukke daarin ontvang.

“Hy voel so ver, ek kan hom nie voel nie,” het ’n ontroosbare Mariandra gesê toe sy die hangertjie ontvang.