Net meer as vyf jaar gelede het die ergste ding gebeur wat seker met enige ma en haar twee dogters kan gebeur.

Vyf mans het in hul huis in Rayton, oos van Pretoria, ingebreek en dié ma en haar twee dogters, wat toe nog net tieners was, verkrag.

Maar Maandag, presies vyf jaar en ses maande ná daardie aaklige dag, het 'n wonderlikste ding met dié familie gebeur toe die jongste dogter (nou 20) die lewe aan 'n klein babadogtertjie skenk.

Die ma, haar dogters en die nuwe baba se name word weerhou om hul identiteit te beskerm.

“Sy is vir ons ‘n klein wonderwerk,” vertel die babadogtertjie se 22-jarige tannie wat nie uitgepraat kan raak oor die klein bondeltjie wat hul aandag kom aftrek het van 'n uitgerekte hofsaak wat al vyf jaar sloer.

Die dag na die verskiklike aanval op die gesin op 12 Maart 2011 het twee van die aanvallers weer verby die gesin se huis geloop. Die een dogter het hulle erken, die polisie gebel waarna hulle gearresteer is.

Progress Shoko en Howard Sekani, albei van Zimbabwiese afkoms, se verhoor vind steeds in die Pretoriase hooggeregshof plaas waar beweer word dat hulle die drie vroue verkrag, geskop en met die vuiste geslaan en geklap het.

Tydens die hofsaak is 'n derde verdagte gearresteer ná een van die dogters hom in die publieke gallery herken het. Omdat die hofsaak so sloer, erken die familie dit “maak dat jy nooit daardie dag sal vergeet nie”.

Maar vir nou geniet hulle eers die vreugde en blydskap van die nuwe toevoeging tot die gesin. Die babatjie is in 'n Pretoriase hospitaal gebore, maar het haar opwagting sewe weke te vroeg gemaak. Sy het by geboorte net 2,1 kg geweeg.

“Sy is die wonderlikste ou dingetjie. Te pragtig. Ons sal baklei tot die dood vir haar,” voeg haar trotse tannie by.

Sy sê sy, haar ma en haar suster was nog altyd ná aan mekaar, veral na die voorval. Maar die nuweling het die band tussen hulle net verder versterk.

“Ons wil haar nou net by die huis hê,” sê sy.