Koningin Elizabeth en haar man, die hertog van Edinburgh, het Daniel Craig en sy vrou in Windsor-kasteel ontvang vir ’n eksklusiewe “eet-en-slaap”-aand.

Die 45-jarige akteur het verlede jaar saam met koningin Elizabeth ’n James Bond-parodie vir die Londense Olimpiese Spele opgeneem.

Sy vrou, die aktrise Rachel Weisz, het die geleentheid in Windsor meegemaak.

Volgens The Court Circular, die amptelike rekord van al die monarg se verpligtinge, het ’n paar ander bekendes ook die aand bygewoon, onder wie die regisseur Tim Burton en sy aktrise vrou, Helena Bonham Carter.

Prinses Anne en haar man, vise-adm. sir Tim Laurence, was ook by die geleentheid. Die gaste het aandete geniet en kon pronkstukke in die koninklike versameling besigtig voor hul bed toe is. Hulle het tot ná ontbyt die volgende oggend vertoef.

Vroeër die maand is die koningin deur die Bafta-voorsitter, John Willis, beskryf as die “onvergeetlikste Bond-vrou tot nog toe”, met verwysing na die Bond-parodie wat sy vir die Olimpiese Spele gedoen het.

Sy is ook beloon met ’n ere-Bafta-prys vir haar lewenslange bystand aan die Britse rolprent- en televisiebedryf.

- Bang Showbiz