Gelukkig voel Dorota Donigiewicz (27) van Hertfordshire, Engeland, weer soos ’n doodgewone ma met alledaagse sorge, pleks van ’n 007 wat die wêreld moet red. Maar sy het onlangs vir die eerste keer openhartig vertel van die seldsame toestand wat tot daardie traumatiese tydperk in haar lewe gelei het.

Enkele maande ná die geboorte van Zofia, nou 17 maande, het sy naamlik "postpartum psigose" ontwikkel, ’n erge vorm van nageboortelike depressie. Simptome kan onder meer ernstige verwarring, vervolgingswaan en hallusinasies insluit.

"Ek het in die Poolse platteland rondgery, op my eie sending, en die foon begin antwoord met, 'dis Bond, James Bond...'" het Dorota aan die Scottish Sun en ander Britse koerante vertel.

"Ek het mense selfs gevra om vir my geld weg te steek sodat daar na Zofia omgesien kon word ingeval ek in my sending misluk.

"My familie het agtergekom ek tree vreemd op, maar eers gedog ek skeer die gek..."

Dorota het in Ierland grootgeword en ook einde 2013 haar verloofde, Sean O'Sullivan (28), ’n ingenieur, daar ontmoet. Ietwat meer as ’n jaar gelede het hulle na Engeland verhuis. Die eerste twee maande daar saam met hul eersteling het goed verloop en hulle was heel gelukkig, al het Dorota voorheen met tye angsaanvalle ervaar.

Sake het egter ernstig skeefgeloop toe sy ’n paar maande ná Zofia se koms Pole toe is om die kleinding aan familie te wys. Binne ’n week ná haar aankoms daar, het sy begin glo sy is 007. "Daar was ’n radiokompetisie om ’n Bond-aanhanger aan te wys wat ’n première sou kon bywoon, en ek het begin dink, 'Wel, ek is James Bond...'

Sedert daardie oomblik het ek gereken dit was my taak om die wêreld te red," het Dorota in onlangse koerantonderhoude vertel.

Sy het ook lukraak nommers begin skakel in die hoop om "kontakte" te vind om haar haar sending te help uitvoer, en selfs haar oorlede ouma se huis besoek, wat sy as skuiling wou inspan.

Sean het gelukkig agtergekom iets skort toe hy haar uit Engeland bel. Die diep besorgde pa het spoedig die Britse geestesgesondheidsdienste genader, wat hom aangeraai om liewer eers saam te speel met Dorota se 007-illusie, haar so gou moontlik tuis te kry en dan ’n dokter te gaan sien sodat sy dringend na ’n psigiater verwys kon word.

Terwyl sy terug in Engeland vir die nodige sorg gewag het, het Dorota se toestand egter vererger, en het sy byvoorbeeld ’n baie duur taxi-rit vir ’n sending na sentraal-London gereël, maar die bestuurder eindelik opdrag gegee om in sirkels te ry.

Sean, alleen tuis met hul baba, moes haar toe sonder versuim in ’n hospitaal laat opneem, waar sy met postpartum psigose gediagnoseer is.

Ná behandeling met anti-psigotiese medikasie en ’n week se berading is sy ontslaan. Maar sy het eers ná talle weke weer soos haar ou self begin voel.

Gelukkig het sy intussen sodanig herstel dat sy vandag weer heeltyds terug is by haar werk in Londen se finansiële bedryf.

Dorota, ’n blogger vir die webtuiste My Mental Health, skryf haar herstel grootliks aan Sean se sorgsaamheid toe. Hulle wil ook nog ’n kind hê. Hy is wel ietwat versigtig, maar sy kwel haar nie te veel oor nog ’n moontlike terugslag nie.

"Sean was nog heeltyd my my rots. En ons lag nou oor daardie illusies... soms noem hy my selfs skertsend 'James'."

Bronne: thesottishsun.com, mirror.co.uk, my-mentalhealth.org.uk, facebook