Deur: Loren Pienaar

Verbeel jou jy is op ’n toerskip en jy word verwelkom deur niemand anders nie as Villa Rosa se rebelse Lerato . . . Dit is presies wat kan gebeur! Die aktrise van die bekende kykNET-sepie Mari Molefe van Heerden gaan eersdaags op ’n toerskip werk.

“Ek wou nog altyd reis en na ’n lekker lang gesprek met vriende en familie het dit na ’n blink gedagte geklink,” vertel sy oor hoekom sy dié groot besluit geneem het.

Die afgelope maand het sy die verkeer op Jacaranda FM se middagprogram, The Workzone, gelees en moes ook die spannetjie vaarwel toeroep. “Barney Simon is die koelsterocker-omie wat ek ken, en hy het my altyd gehelp met alles waarmee ek sukkel,” sê sy.

Einde Oktober begin sy as ’n seremoniemeester en gasvrou op ’n skip wat op die Karibiese See vaar. Oor seesiek raak is sy nie bekommerd nie. “Ek was nog nooit op so ’n groot boot nie, maar ek weet wel dat ek in ’n kar kan boek lees en dit pla my nie.”

Waaroor sy wel bekommerd is, is die lang werksure op die skip. “Jy kry min rusdae.” Die salaris gaan egter beslis op maak. “En natuurlik die reis na verskillende dele van die wêreld!”

Maar na vriende en familie gaan sy verlang en beslis ook na haar karakter, Lerato. “Ek en sy loop nou al drie jaar saam, ’n tydjie uiteen sal ons albei goed doen, maar ek kan nie wag om weer in haar skoene te klim nie,” vertel sy.

Moet egter nie bekommerd wees nie, want toneelspel is beslis nie iets van die verlede nie. “Ek gaan net vir ses maande weg; nie verewig nie.”

Vinnige vrae:

Watter liedjie laat jou aan skepe dink?

“Enige Beach Boys-liedjie.”

Wat is jou verpligte items vir ’n skeepslewe?

“IPad, sonbril, selfoon en ’n stukkie Afrikaanse leesstof.”

Het jy die Titanic gesien en maak dit jou nie bang nie?

“Ek het dit jare gelede gesien, maar darem het die bootbedryf al so gevorder, ek twyfel dat daar enige probleme sal wees. As daar wel probleme is, is ek een van die eerstes wat op ’n reddingsboot spring!”

Hoe ver kan jy swem?

“Uhm, ek weet nie. Nie baie ver nie . . . en ek is ook nie mal daaroor nie.”