Sunita van Dyk (31) en haar man, Jacques (30), en hul hond, Skollie, het in die vroeë oggendure van 10 Mei in ’n vlammehel op die plaas Oakdene buite Wellington gesterf.

Iemand het glo obsessief oor Sunita opgetree

Nou is die raaisel rondom hul dood besig om nog verder te verdiep. Jacques se familie het intussen 'n privaatspeurder aangestel om die saak verder te ondersoek.

Daar word beweer dat een van die mense ná aan Sunita met wie sy gereeld kontak in verskeie vorme gehad het, obsessief oor haar opgetree het.

Intussen het dit ook bekend geword dat sekere items, wat moontlik 'n sleutelrol in die ondersoek na die paartjie se dood kan speel, ook vermis word.

Sunita is glo dood aan rookinaseming

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die nadoodse verslag wat Woensdag bekend gemaak is, het nekbeserings aan Sunita bevestig. Sunita is glo dood aan rookinaseming. “ ’n Geregtelike ondersoek word gedoen,” het sy gesê.

Dit is nog nie bekend hoe Sunita die nekbeserings opgedoen het nie. Volgens Rwexana is dit ook nog nie bekend hoe die brand ontstaan het nie.

Drie weke voor Sunita se dood het dit aan die lig gekom dat sy, ’n onderwyseres aan die Laerskool Paarl Gimnasium, ’n affair gehad het.
 
Vroeër vandeesmaand het die hoof van die Laerskool Paarl Gimnasium, Danie le Roux, ’n brief oor die saak aan ouers geskryf.

“Ek en my vrou het toegelaat dat een van ons personeellede te na aan ons kom op ’n persoonlike en emosionele vlak,” skryf Le Roux.