Dis ’n oeroue instink wat hom na die jagveld dryf. Daar waar hy weer mán kan word.

Bok van Blerk vou sy hande om sy koppie koffie. Voor hom knetter die kampvuur. Rondom hom word die Bosveld wakker.

Dis hier waar hy kan ontsnap van die geharwar van die stadslewe. Hier waar geen selfoonsein of skootrekenaar hom kan bykom nie. Dit gee hom lewe: die stilte, die vrede – die alleen wees en een wees met die natuur.

“Ek is lief vir die Bosveld,” vertel die 32-jarige sanger van treffers soos My Kreet.

“Soms kry ek so in die stilte ’n idee vir ’n liedjie, maar die Bosveld is nie noodwendig waar ek skryf nie.”

Tensy hy spesifiek vir skryfsessies bos toe kom. Soos verlede jaar toe hy, Johan Vorster en Sean Else in hierdie einste boskamp op die Thithombo-wildplaas in Limpopo se Mookgophongdistrik ’n paar van die liedjies van sy nuutste album, My Kreet, kom skryf het.

“Rondom presies hierdie kampvuur,” vertel hy.

Maar daardie skryfsessie was ’n uitsondering. As Bok Bosveld toe kom, is dit allereers om iets vir die pot te kom jag. So agter die loop van sy jaggeweer op die spoor van ’n bok kan hy regtig ontsnap en kop skoonmaak, veral in tye soos die afgelope paar maande toe hy meestal uit ’n tas geleef en die land vol getoer het om sy nuwe album te bemark.

"Ek dink dis ’n tipies manlike instink. Wanneer ons uitgaan en iets huis toe bring om te eet, is wanneer die grotman in ons uitkom. dis ’n ingebore ding, ’n sensasie; ’n gevoel van satisfaksie wanneer die vis aan die lyn byt of die bok val.”

Dis ook die plesier van die jag. Want daar is niks wat by die adrenalien kom wat deur sy are bruis wanneer hy te voet in die jagveld agter sy prooi aan is nie. Nie dat Bok sommer voor die voet skiet nie.

“Mense dink jagters is almal bloeddorstig, maar daar is ’n fyn grens. Jy kry jagters wat daarop uit is om te drink en te kuier en enigiets wat voorkom te skiet.

“Dis belangrik om ’n etiese jagter te wees. Dit gaan nie net daaroor om diere te skiet en vleis te verwerk nie, maar ook om die natuur te geniet.” daarom probeer hy om nooit ’n dier te kwes nie en weet hy maar te goed watter wild nie in jou visier moet kom nie.

Dié dat hy verlede jaar een van talle bekendes was wat sy stem op ’n plaaslike radiostasie dik gemaak het teen renosterstropery en gehelp het om geld vir dié saak in te samel.

“Ek sal enige tyd waar ek kan van my tyd en hulp gee om wild te bewaar.”

Bok beklemtoon dat wildplaas-eienaars nie net geld uit jagters probeer maak nie, maar ook wild bewaar deur teelprogramme te bestuur en te sorg dat daar nie te veel wild op hul plase afgemaai word nie.

Lees die volledige artikel in die Herfs 2011-uitgawe.