Terwyl haar man bekend is vir sy vurige spel en vermoë om die bal uit enige oond op die rugbyveld, hoe warm ook al, te kan haal – was dit haar beurt vandag om die gehoor te bekoor en deel van #TeamBobby te word!

Caroline-Grace Brüssow, vrou van die Springbokspeler Heinrich Brüssow, het tydens Sondagaand se voorlaaste program van The Voice SA se blinde oudisies met vlieënde vaandels na die volgende ronde deurgedring.

Caroline-Grace (28), ’n prokureur van Bloemfontein, het spesiaal van Osaka, Japan, ingevlieg om ’n oudisie vir dié gesogte werklikheidsprogram af te lê. Die paartjie bevind hulle ses maande van die jaar in Japan vanweë Heinrich se rugbyverpligtinge. En dit was duidelik dat hy boonop sy talentvolle vrou se grootste ondersteuner is terwyl hy haar vanaand in die gehoor ondersteun het. Haar weergawe van Céline Dion se Loved Me Back To Life was verstommend. “Jy’s so ’n klein dame maar met so ’n allemintige stem! Baie geluk met jou vertolking van so ’n massiewe liedjie,” het Bobby haar geprys. Sy was die enigste kunstenaar wat vanaand deur Bobby gekies is.

Skakel elke Sondagaand om 17:30 op M-Net – kanaal 101 – in vir die tweede seisoen van The Voice South Africa. Heruitsendings vind 18:00 Maandae op M-Net City-kanaal 115 plaas. Gaan na The Voice South Africa vir eksklusiewe onderhoude met afrigters en die talentvolle deelnemers.