Die voormalige hoofafrigter van die Stormers Allister Coetzee se aanstelling as nuwe Springbok-afrigter is Dinsdag in Johannesburg aangekondig. Huisgenoot het gesels met rugbykenners wat óf al self in die Groen-en-Goud op die veld gedraf het óf al jare daaroor skryf, en gehoor hoe hulle oor dié aanstelling voel.

[caption id="attachment_121696" align="alignnone" width="600"]Allister Coetzee (Foto: Instagram, dhlstormers) Allister Coetzee (Foto: Instagram, dhlstormers)[/caption]

Stephen Nell, Die Burger se rugbyskrywer in Kaapstad, stap al ’n lang pad saam met Allister en hy is baie gelukkig oor sy aanstelling.

“Niemand is so goed gekwalifiseer soos Allister nie. Hy het al meer bereik as enige van die franchise-afrigters. Dis nou as jy kyk na die Stormers, die Leeus, die Bulle . . . ”

Allister was in 2007 een van die twee senior hulpafrigters, waar hy die agterlyn afgerig het, toe die Bokke die Wêreldbeker onder Jake White se leiding huis toe gebring het.

“Hy is ’n geweldige goeie mensebestuurder. Hy verstaan mense van verskillende kulture. Hy kan Afrikaans, Engels en Xhosa praat en ek dink dit gaan baie respek afdwing,” sê Stephen.

Hy meen Allister gaan die breër bevolking agter rugby laat skaar. “Hy gaan rugby toegankliker maak.”

Lees ook: ‘Dis waarom ek bedank het,’ onthul voormalige Bok-afrigter Heyneke Meyer

“Tegnies het Heyneke Meyer as hoofafrigter ’n beter rekord gehad. Maar dan kan ’n mens weer motiveer dat Allister deel was van die bestuur van die Bokspan wat die Wêreldbeker gewen het,” meen Stephen.

“Peter de Villiers was nie eers op provinsiale vlak ’n hoofafrigter nie en Jake White ook nie. Jake se beste kwalifikasie was dat hy die o.21’s gebrei het toe hulle die Wêreldbeker wen.

“Allister is hardwerkend en deeglik.”

Louis de Villiers, ’n legende onder rugbyskrywers wat deesdae as vryskutskrywer in die Kaap werk, het vurig op Allister se aanstelling gereageer. “Enigiemand anders sou my eintlik nogal die bliksem in maak. Allister verdien dit.”

“Hy is een van die ouens wat met mense kan werk. ”

Louis dink sy vermoë om met jong mense te identifiseer en te ontwikkel gaan ’n groot rol speel in die toekoms van SA rugby.

“Niemand wantrou hom nie. Hy het nog nooit gelieg nie. Hy het nog nooit sy humeur verloor nie. Hy kom nie met ’n agenda nie,” sê Louis.

Dawie Snyman, ’n agterspeler-legende en ook ’n voormalige Westelike Provinsie-afrigter, het g’n erg oor wie die Bokke brei nie. “Dit maak nie vir my saak nie. Dit is belangrik dat ons wen. Ons moet wegkom van die soort van verskonings oor hoekom ons nie resultate kry nie.”

“Allister moet die land se mense saam met hom vat. Dit is wat die Bok-afrigter moet doen.”

“Ek is ’n rugbymens en (Danie) Craven het my grootgemaak met idee dat SA altyd eerste kom. Dit gaan oor wen, en niks anders nie.”

“Die Bokspan was nie goed genoeg (onder Heyneke) nie. Hulle is gewone mense wat werk en hulle moet wen.”

Jan Boland Coetzee, ’n Boklegende wat in die 1970’s in die no. 6-trui Suid-Afrikaners se hart verower het, het ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi.

“’n Afrigter is eintlik ’n skakelbeampte. Hy moet almal gelukkig hou. ’n Mens moet 2019 voor oë hou. Allister is die ideale kandidaat om die beste ouens te identifiseer. Hy kan dit nie alleen doen nie.”

“Allister moet eintlik die wysheid van Salomo hê,” sê Jan.

“As jy van ’n uitdaging hou en jy die vermoë het om te bestuur, is die pos as Bok-afrigter die opwindendste pos ter wêreld. Dit sit nie in enigeen se stêrre nie!”

“Ek dink hy het genoeg ondervinding.” Jan is ook ’n groot aanhanger van die Leeus se hoofafrigter, Johan Ackermann, en sou hom graag as die Bok-afrigter wou gehad het, hoewel hy ’n pluimpie vir Allister se flair – ten opsigte van hoe hy mense bestuur – gegee het.

Om tot volle wasdom te kom in dié taaitoffie-pos, het Allister vaardigheid, dissipline, flair en geluk nodig, sê Jan.

Lees ook: Kenners sê hoekom hul dink die aanstelling van die Bok-breier so sloer

Ondervinding iets waaroor die nuwe Bokbreier uit talle oorde geloof word. “Allister het gedink jy kan ’n drie duik, maar toe besef hy jy moet dit druk,” skerts Jan. “Hy is al deur fases van beproewing.”

Hy kan maar net hoop Allister het die beste mense saam met hom, sê Jan. “Elke ou in die span is deel van ’n sekere dissipline en Allister moet dit laat sing.”

“Een man kan die wêreld net vir een mens verander. Vyftien ouens op die veld kan dit vir die afrigter verander, en dit is wat tel.”

Cobus Claassen, Beeld se rugbyskrywer in Pretoria, is dit eens Allister is die ooglopende breierskeuse.

“Allister het ’n lang geskiedenis met rugby . . . Hy werk goed met mense. Hy het in die verlede bewys hy het hom verbind tot transformasie,” sê Cobus.

“Dit is jammer dat ’n mens dit vra – en dit is nie ’n belediging teenoor Allister nie – maar, wie anders?”

– Annami Mailovich

Ander stories op Huisgenoot.com

Klop só lag-lag jou hoofpyn

Gucci-advertensie verbied oor ‘ongesond maer’ model

‘Vet Vincent’ die worshond skud die kilo’s af – en jou troeteldier kan ook

102-jarige vrou stralend oor graad wat sy ontvang 60 jaar nadat sy daarmee begin het

Aantal tiere wêreldwyd styg eerste keer in ? eeu

Hulp vir deurmekaar kiesers ná adres-SMS oor munispale verkiesing