Sy het tientalle titels agter haar naam – van haar eerstes op 18 jaar soos Mej. Skou en Mej.Tiener Limpopo, tot vanjaar se oes: Mej. Rivonia, Platinum Gesig van Afrika en die jongste en grootste van almal, Mej. Suid-Afrika 2010.

Tog was die pragtige Bokang Montjane nie altyd die selfversekerde wenner wat op 12 Desember by Sun City die gesogte Mej. Suid-Afrika-lyfband en -kroon ontvang het nie.

Van kleins af het sy gedroom van die skitterende tabberds, die blink lyfbande, die applous van die skares. Maar al het sy hoe hard probeer, kon die dogtertjie met die vol lippe net nie hond haaraf maak nie.

Bokang lag uitbundig. “Aarde, ek het net aanhou verloor, verloor, verloor!”

Maar alles gebeur met ’n rede, en verloor of nie, sy het nooit moed verloor nie. En dis alles aan haar ouers te danke.

Pa Obed Montjane, ’n hoër-skoolhoof, en ma Naum, ’n verpleegster, het hul middel-kind se droom voluit ondersteun.

“My pa het my Boki Special genoem en my gedurig vertel ek is die mooiste meisie in die wêreld. Hy het gesê die beoordelaars was maar net nie slim genoeg nie, want hulle het my misgekyk,” vertel Bokang.

Sy en ousus Tshepo, wat by ’n bank werk, en Meladi, ’n argitekstudent en die baba in die gesin, het ongelooflike grootwordjare gehad, voeg sy by.

“Ons is geleer dis reg om jouself te wees en jy hoef nie volmaak te wees nie.”

G’n wonder Bokang, wat spog met ’n diploma in skakelwese en 1,74 m in haar sokkies staan, loop oor van selfvertroue nie. Sy het die beoordelaars van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie van die begin af beïndruk en die skare by die Sun City Superbowl het haar staande toegejuig toe sy wen.

Maar Bokang (24), ’n self-erkende “rolprentslaaf” wat dol is oor dansflieks, lekker liefdestories en inspirerende flieks soos Remember the Titans met Denzel Washington, is beskeie oor haar prestasie.

“Ek was nie vanjaar die langste meisie nie. Ek was nie die maerste nie, en ek sou nie sê ek was die mooiste nie. Maar my persoonlikheid het gehelp. Ek het uit my hart gepraat en mense laat sien wie ek regtig is.

“Ek sou graag wou dink ek is iemand wat in ’n vertrek kan instap en haar teenwoordigheid laat geld . . .”

Lees meer in Huisgenoot, 30 Desember 2010.