Hoe kalmeer jy die senuwees voor ‘n vertoning?

Ek bid vreeslik baie. En dan gil ek baie hard.

Wie is jou gunsteling Idols-beoordelaar?

Randall, want hy is eerlik en Gareth, want hy is ‘n gawe ou wat jou nie breek nie.

Wat het jy gedink van Mara Louw op daai aand wat hulle beweer het sy was dronk?

Sy het heeltyd gesê ek mis “daai ding” en ek het nie ‘n idee gehad waarvan sy praat nie. En sy sê ook heeltyd ek is die “boytjie from ikasi”, sy moet nou ophou daarmee.

Wie is jou gunsteling Idol?

Lloyd. Ek sê elke dag vir hom hy het die mooiste stem.

Wat was jou gunsteling Idols-oomblik?

Toe ek Use Somebody van Kings of Leon gesing het. Mense het nog nooit vir my geskree soos daardie dag nie.

En jou slegste Idols-oomblik?

Toe ek met die Top 14 Dobie Gray se Drift Away gesing het en Randall gesê het ek gaan weggevee word.

Was daar ooit bakleiery in die Idols-huis?

Ek het een keer ‘n ‘vriendelike’ geselsie met die ander gehad, omdat hulle te veel in my persoonlike lewe ingemeng en iets persoonlik aan ‘n poniekoerant vertel het.

Wat het jy die meeste gemis van jou gewone lewe?

Ek is ‘n partytjiedier. Ek drink nie baie nie, maar ek is lief daarvoor om uit te gaan en te dans tot die volgende oggend.

Wat sou jy met die wengeld gekoop het?

Ek wou heel eerste vir my ma en pa R100 000 gee. Hulle het vreeslik baie gestem met SMS’e. Ek het vir hulle gesê hulle moet nie, want dit is vreeslik duur en daar is geen sekerheid dat dit sal maak dat ek wen nie. En die res van die geld wou ek belê.

Wat is jou selfoon se luitoon?

Rihanna en Jay Z se Run this Town.

Vertel ons ‘n geheim van die Idols-huis.

Lloyd slaap heeltemal te veel. Selfs wanneer ons in die groenkamer sit voor ‘n optrede slaap hy. Hy slaap altyd!