DIE wit Toyota-bakkie se wiele sing oor die teer en in sy kajuit ry ’n verliefde paartjie sing-sing huis toe ná ? idilliese vakansie in Mosambiek.

Die De la Rey-sanger, Bok van Blerk, en sy meisie van die afgelope 16 maande, Hanna Grobler – oftewel Kiki soos Getroud met Rugby-kykers haar leer ken het – gesels, lag, vertel grappies en sing saam met die musiek oor die radio terwyl die kilometers onder hulle verbysuis.

‘‘Sy is onortodoks; sy het teen Mike Tyson geboks,’’ kom die woorde skielik in Bok se kop. Hanna lag, maar is oomblikke later by met haar eie reël: ‘‘Sy’s ? Bengaalse tier, soos ’n skoothondjie versier.’’

En Bok is reg met die volgende: ‘‘Haar naam is Tina van Wyk, die upperclass het haar ontwyk.’’

Die twee lag te lekker oor die manier waarop hulle die woorde so in die ry saamflans, maar Bok besef: Dit kan regtig ’n liedjie word. ’n Deuntjie daarvoor begin al in sy kop vorm aanneem . . .

Hanna moet inderhaas ’n pen en papier gryp en die woorde neerskryf voor dit by die venster uitwaai die vergetelheid in.

‘‘Ja, dit is regtig hoe die liedjie Tannie Tina van Wyk ontstaan het,’’ vertel Bok vandag, byna 10 maande later. En dit is ook ál komiese liedjie – die eerste een wat die twee saam geskryf het – op Bok se nuwe en derde album, My Kreet, wat aanstaande maand uitgereik word.

Nie net het hulle dit saam geskryf nie; Hanna sorg ook as tannie Tina vir die agtergronddialoog op die snit.

En nie net met musieksmaak is hulle ’n gedugte span nie; hulle ondersteun mekaar ook in hul loopbane en met hul liefdadigheidswerk. Selfs al beteken dit om saam reën en sneeu op ’n motorfiets te trotseer vir ’n goeie doel.

Soos Hanna sê: ‘‘Saamwees is die sement van ’n verhouding.’’

Hy is duidelik ’n gelukkige man. Nie net gaan hy ‘‘met die mooiste en oulikste meisie’’ uit nie, sê Bok terwyl hy skalks na Hanna loer, maar hy het ook vroeër vanjaar ’n Sama-prys vir sy tweede album, Afrikanerhart, ontvang. Dit was die beste verkoper in 2009.

Doemprofete het destyds openlik gesê hy is ’n een-treffer-wonder – dat hy nooit die sukses van die De la Rey-album sou kon herhaal nie.

‘‘Maar Afrikanerhart en die Sama het my felste kritici verkeerd bewys. En My Kreet is ’n sterk album waaraan ek en Mozi Records baie hard gewerk het.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 28 Oktober 2010