DIS ’n bietjie vroeg om te sê of Quade eendag nes sy pa ’n Springbok sal word; hy is darem nog net twee maande oud. Maar vandag deel hy pa Bjorn Basson se kollig ver van die rugbyveld.

Uitgevat in ’n wit satynpakkie met ’n goue strikdas daarby word hy in die St. Mary-katedraal in Kimberley ingedra waar sy 24-jarige Springbok-vleuel-pa en sy ma, Nicole Beckmann (19), vandag in ’n tradisionele Rooms-Katolieke plegtigheid trou.

Klein Quade is die ringdraer. “Ek gaan so baie van sy mylpale misloop weens rugby, daarom wou ek hê hy moet deel wees van die troue,” het Bjorn vroeër oor sy kleinding se belangrike rol verduidelik.

Hy straal, soos net ’n nuwe pa én ’n bruidegom kan. Die lelike skandaal oor daardie positiewe toets vir verbode middels wat sy loopbaan kan ontspoor, is vir eers vergete.

Nicole stap die katedraal binne, en dalk vir die eerste keer in die geskiedenis klink die klanke van ’n saksofoon – die speler Kenny G – in die waardige gebou op. Sy het dit ter ere van haar pa, Gregory, gekies pleks van ’n tradisionele troumars.

“My pa is dol oor Kenny G, daarom is dit my manier om hom te groet om my nuwe lewe te begin.”

Sy straal terwyl sy in haar naaswit rok met sy sleep langs haar pa in die paadjie afstap. Dit is ’n eenvoudige, elegante rok met blomme en kritstalkrale aan die bolyfie en sleep. “Ek is dol oor my rok. Dit vlei my mamma-figuur. En ’n tiara rond my uitrusting af, want ek wou soos ’n prinses voel,” het sy vroeër verduidelik.

Bjorn kan nie gelukkiger wees nie. Hy het immers lank op hierdie dag gewag.

“Nicole was in ’n ernstige ongeluk,’’ het hy vertel. “Ek het in Kaapstad gespeel en so hulpeloos gevoel.’’

Dit was hierdie ongeluk nou 16 maande gelede wat hom laat besef het: Hierdie meisie wil hy vir ewig in sy lewe hê.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 27 Januarie 2011.