Tydens ’n rooftog Dinsdagaand by OR Tambo-lughawe in Kempton Park is daar glo minstens R24 miljoen vanaf ’n vliegtuig op die aanloopbaan geroof, het News24 bevestig.

sirens

Volgens die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) is geen skote tydens die rooftog afgevuur nie en is niemand beseer nie.

Acsa het in ’n verklaring gesê die rooftog het omstreeks 19:45 plaasgevind.

SAA-vlug 294 het pas uit die buiteland geland toe ’n rits gemerkte polisievoertuie dit op die aanloopbaan onderskep.

Bronne het aan Netwerk24 verklap dat die rowers in ’n Ford Focus met blou ligte op die paneelbord en verskeie ander bakkies met polisietekens op by ’n agterhek by die lughawe ingery het.

Die bestuurders van die voertuie het glo vir sekuriteit gesê hulle kom doen ’n "roetine inspeksie", waarna hulle deurgelaat is.

Volgens Acsa werk hulle, die SAPD en die Valke nou saam om die skuldiges vas te trek. Die rowers is nog soek.

Die presiese bedrag wat gebuit is, is ook nog onduidelik met party bronne wat R24 miljoen meld terwyl ander berig tot soveel as R45 miljoen is gesteel. Nóg Acsa nóg die SAPD óf die Valke het die presiese bedrag bevestig.

Bronne: News24; Netwerk24