Dit is waarom die intrige van die nuutste Afrikaanse romantiese komediedrama, Sonskyn Beperk, wentel. Dié rolprent, met Neels van Jaarveld, Anelle Bester, André Roothman en Chris van Niekerk, begin 11 Maart op die silwerdoek wys.

Anya (Anelle Bester) keer ná drie jaar in New York terug na haar familieplaas in Suid-Afrika waar sy haar stoere pa, Marius (André Roothman), moet bystaan om hul sukkelende familieplaas, Sonskyn Beperk, te red.

Lees ook: Kyk na dié koel vermengings van epiese danstonele uit die flieks

Dan kry ons ook die rokjagter, Rudi (Neels van Jaarsveld), wat op sy pa se goeie naam en inkomste van sy bierbrouery ry. Op ’n dag is Pappa keelvol vir Rudi se luiheid en stuur hom op ’n belangrike tog om die beste bierresep in die land op te spoor.

En dis hoe hy by Sonskyn Beperk beland, want Marius het intussen begin bier brou om kop bo water te hou.

Die vonke begin behoorlik spat toe Rudi en Anya se paaie kruis. Anya is salig onbewus van Rudi se verskuilde agenda en terselfdertyd moet Rudi kies tussen die liefde en sy reputasie in die familiesaak.

Loer hier na die lokprent vir Sonskyn Beperk:

Ons het ’n bietjie met Neels gesels oor sy rol in dié nuwe fliek.

Ruan kom voor as ’n loskop rykmanskind wat net een ding op die brein het, anders as jou vorige karakters soos Gideon Basson. Was dit vir jou ’n uitdaging om dié karakter te vertolk?

Ruan is beslis dit, maar tog êrens in hom is daar iets goeds. Dit duur net ’n ruk voor hy dit besef. Terwyl Gideon effens lomp was met die vroue, sukkel Ruan nie juis nie. Ek bestudeer mense daagliks en probeer elke karakter wat ek aanpak, uniek maak. Hoe hy loop, hoe hy praat, wat is dit wat hom dryf, ens. Ek dink en raak die karakter. Dan bly die grootste uitdaging om die karakter te handhaaf deur 12-uur-dae, woeste winde, bloedige son en baie laataande.

Jy speel teenoor Anelle Bester in Sonskyn Beperk; dit klink of die twee karakters ’n wipplank-verhouding het. Was die verhouding van die stel af darem meer eweredig? Is dit die eerste keer dat jy saam met haar werk?

Anelle was baie voorbereid en passievol en sonder enige klagtes. In die prent is ons verhouding omtrent op en af, maar van die stel af het ons goed oor die weg gekom. Dis ons eerste keer saam, maar ek reken hulle kon nie iemand beters gekry het vir die rol nie.

Lees ook: Kyk net hierdie bekendes se verborge talente

Dit klink of jy heelwat bier gedrink het tydens die vervaardiging van die rolprent. Moet jy nou jou bierpens afskud?

Ha-ha! Ek drink mos nou al 27 maande nie meer nie maar gelukkig het ek ’n goeie verhouding met Joes Hops Beer (alkoholvry) opgebou en is dit 'n fantastiese plaasvervanger en produk en nie te erg vir die bierpens nie!

Kan jy drie redes gee hoekom mense die fliek moet gaan kyk? Wat onderskei dit van soortgelyke rolprente?

Goeie akteurs met nuwe en ou gesigte. Unieke storielyn. Fantastiese skote met ’n draaiboek wat nie voorspelbaar is nie.