“Boetie gaan nie weet hy het 'n pappa nie,” het Johann Heunis se dogtertjie, Mieke (6), kort ná haar pa se skietdood vir haar ma, Mariandra, gesê.

Haar swanger ma het geantwoord hulle gaan hom van haar pappa vertel, maar Mieke het volgehou: “Hy gaan ons nie glo nie.”

Só het Mariandra (32) Maandagaand 'n gesprek met haar dogtertjie geskets kort nadat haar man en drie kinders se pa, Johann (43),  Saterdag in die vroeë oggendure voor haar in hul huis op 'n kleinhoewe noordoos van Pretoria doodgeskiet is.

Hulle het op die boonste verdieping van hul huis in die sitkamer op die bank aan die slaap geraak toe rowers vermoedelik deur 'n klein venster in die huis gekom het. Mariandra onthou hoe die rowers aanhoudend vir geld gevra en aanmekaar gesê het: “Ons gaan julle doodmaak! Ons gaan julle doodmaak!”

Die gebeure was geweldig traumaties. “Johann is voor my weggeruk.”

Dié voorval was so wreed, sy kan dit nie vergeet nie, sê Mariandra. “Ongelukkig dink 'n mens nooit dit gaan met jou gebeur nie.”

Mariandra skenk op 12 Oktober die lewe aan die egpaar se vierde kind. Dit is op Mariandra se verjaardag. “Ons het so gespot oor die ‘geskenkie’ wat ons gaan oopmaak,” sê Mariandra. Die egpaar het nog twee dogtertjies, Mischa (4) en Majandré (2).

“Johann was baie opgewonde. Ons het nie gedink ons het die kans vir 'n seuntjie nie – ons ou kroonprinsie,” sê sy hartseer.

Sy beskryf Johann as 'n awesome superman, wat nooit opgegee het nie en altyd tyd gehad het vir mense. “Hy was my alles. Ek sal nooit in my lewe weer 'n mens ken wat so lief is vir my of so goed vir my nie.”

Sy en Johann was 10 jaar 'n paartjie, waarvan sewe jaar getroud.

Haar drie meisiekinders hou haar aan die gang, sê sy. “Dit is my doel, dit is my fokus. Dit is al wat ek weet.”