datsun1

Nissan wil nou Datsun posisioneer as sy vegter in die intreevlaksegment met bekostigbare modelle in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika, Indië en Rusland.

Volgens Nissan Suid-Afrika sal die eerste nuwe Datsun-model in meer as drie dekades volgende jaar hier beskikbaar wees. Dié model gaan die Datsun GO wees, ’n kompakte vyfdeurluikrug, waarvan die eerste foto’s en inligting pas uitgereik is.

Die GO het ’n 1,2-liter-petrolkragbron wat gekoppel is aan ’n vyfspoed-handratkas. Na verwagting sal die GO oor al die nodige geriefs- en veiligheidskenmerke beskik, maar die prys sal baie billik wees.

Verder gaan die motortjie ook nie ’n ingewikkelde klankstelsel hê nie, maar ’n ankerplek vir slimfone of MP3-spelers waardeur bestuurders hul musiek kan speel.

Na verwagting sal Nissan later volgende jaar nog talle ander Datsuns bekendstel en wie weet, dalk herleef die Datsun-bakkie ook...

- Wilmer Müller (Twitter: @wilmermuller)

datsun2

datsun3