Hierdie peuselgrootte frittatas van Checkers en Jenny Morris is net reg vir klein handjies, maar sal ook die kieskeurigste tiener se eetlus bevredig. En watter beter manier is daar om dit ’n Suid-Afrikaanse kinkel te gee as met ons ons geliefde boerewors?

Peuselgrootte boerewors-frittatas

Lewer 12

Bestanddele:

  • 15 ml (1 e) botter
  • 2 murgpampoentjies, in blokkies gesny
  • 1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
  • 4 sprietuie, gekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 300 g gaar dik of dun Championship Boerewors (slegs by Checkers), in 12 klein stukkies gesny
  • 250 ml (1 k) ekstra beleë cheddarkaas, gerasper
  • 8 eiers, geklits
  • 250 ml (1 k) room
  • sout en peper
  • 1 ml (¼ t) fyn neutmuskaat
  • 30 ml (2 e) vars pietersielie, gekap
  • 1 bakkie kersietamaties, gehalveer
  • 200 g murgpampoentjies, in skywe gesny
  • takkies vars roosmaryn

Maak so:

Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n 12-holte-muffinpan met kleefwerende sproei. Smelt die botter in ’n braaipan en braai die murgpampoentjies, rooi soetrissie, sprietuie en knoffel ’n paar minute tot verlep. Verdeel die murgpampoentjiemengsel tussen die muffinholtes en bedek met ’n stuk boerewors. Klits nou die eiers en room saam en geur met die sout, peper en neutmuskaat. Roer die kaas en pietersielie in, skep die mengsel in die muffinholtes en garneer met die tamaties, skywe murgpampoentjie en takkies roosmaryn. Bak 15-20 minute of tot die frittatas opgepof en geset is. Verwyder uit die oond en laat afkoel voor jy hulle uit die muffinpan haal.

Klik hier vir nog heerlike Checkers-resepte.

- Resep deur Jenny Morris

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.