Boeremusiekliefhebbers het gister met skok verneem dat die legendaries konsertinaspeler Nico van Rensburg (76) ná ’n hartaanval oorlede is.

Sy vrou, Lydia, het aan Beeld gesê dat hy die afgelope paar jaar met sy gesondheid gesukkel het en ook hartprobleme gehad het.

Nico was die beskermheer van die Boeremusiekgilde en was veral bekend om sy konsertina-talent. “Hy het geleef vir boeremusiek, vir Afrikaans en die Afrikaanse kultuur,” het Lydia gesê.

Lede van die Boeremusiekgilde se Facebook-groep het hul hartseer oor sy dood en medelye met sy familie uitgespreek. “ ’n Groot verlies vir sy groot boeremusiekfamilie, maar ons is dankbaar oor sy reuse nalatenskap!” het ene Jr Olivier op dié groep se muur geskryf.

Peet Visagie, nog ’n groepslid, skryf: “Hy was altyd plat op die aarde en het altyd tyd gemaak om met ’n mens te praat.”

Nico se begrafnis sal op Donderdag 16 Mei om 10:00 gehou word vanuit die Nederduitsch Hervormde gemeente Swartkop, Irelandlaanverlenging 107, Eldoraigne.

Hy word deur sy twee kinders, vier kleinkinders en een agterkleinkind oorleef.

Video: Luister hier na van Nico se konsertina-treffers:

http://www.youtube.com/watch?v=reJ5sbaRr5c

Ekstra bron: Beeld

-Suzaan Hauman