Konsertinas, trekklaviere, stowwerige sale op plattelandse skouterreine.

Is dit hoe jy aan boeremusiek dink? Dink dan weer, want boeremusiek is afgestof. Dit is skielik blinknuut en spog deesdae met vele gesigte.

Aan die een kant is daar tradisionele boeremusiek deur groepe soos Mooiplaas en die Bredell Dansorkes, en ou hande soos nico van rensburg, Manie Bodenstein en Theo Erasmus.

Dan is daar boeremusiekmakers met ’n verskil, soos die boererockers Beeskraal en Valiant swart, wat saam met die meester-trekklavierspeler ollie Viljoen die pryse ingeryg het vir sy Vuur en Vlam-album en -DVD.

En meer onlangs het Radio Kalahari Orkes met hul sielvolle en ook humoristiese lirieke boeremusiek ’n heel nuwe klank kom gee. Hul nuwe album, Heuningland, word geprys as een van die bestes van 2009.

Die jongspan staan ook nie terug nie. Die Teelepeltjies is ’n groep jongelinge wat al van kindsbeen boeremusiek maak, al verskeie pryse gewen het en verlede jaar ’n CD, Boeremusiek op sy Warmste, uitgereik het.

Ook Die Penkoppe het al ’n album met die titel Jeug-erfenis uitgereik – en hulle was verlede jaar nog almal op laerskool!

Die wedywering tussen skolegroepe by die jaarlikse Boeremusiekgilde-kompetisie is straf. Al is hierdie kinders nog net ’n baksteen en ’n tiekie hoog, kan hulle ’n konsertina en ’n banjo vasvat. In dié kompetisie pak ook die vroue deesdae mekaar en die Kaapse Affodille was verlede jaar se beste vrouegroep.

En boeremusiek is verstommend gewild – dermate dat ’n vervaardiger soos Johan Scott, die eienaar van Leo Musiek, wat verskeie groot boeremusiekname in sy stal het, meen dit maak tot 30 persent van die Afrikaanse mark uit.

Klipwerf Orkes, wat dansmusiek met ’n boeremusiek-aanslag speel, het trouens al meer as ’n ongelooflike 1,2 miljoen albums verkoop. En Zak van Niekerk en die Kitaarkêrels se gewilde album Umfaan Skoffel was in 2008 die nommerdrie-Afrikaanse album by Musica.

“Daar is ’n groot oplewing in boeremusiek,” beaam Willie Mynhardt, voorsitter van die Boeremusiekgilde van Suid-Afrika. “Boeremusiek was eintlik nog nooit so kerngesond soos nou nie.”

Lees die volledige artikel in die herfs-uitgawe van Tempo.