Die toestand van ’n boer wie se linkerarm deur ’n krokodil afgeruk is, is kritiek maar stabiel.

[caption id="attachment_118999" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie (pixabay.com) Foto ter illustrasie (pixabay.com)[/caption]

Pieter du Plooy, ’n ambulansnoodassistent van Securicon Lowveld, ’n veiligheids- en ambulansdiens, sê Allan Peeters (63), ’n plaaseienaar van Sasolburg, word in die Millpark-hospitaal onder verdowing gehou weens die ondraaglike pyn. Vier spesialiste sien na hom om.

Allan het Maandag omstreeks 18:15 by die Komatipoort-laagwaterbrug in Mpumalanga ’n vis uit die water getrek toe die krokodil uit die water spring, hom gryp en in die water intrek. Hy het saam met sowat ses tot sewe vriende en familielede vakansie gehou en op die wal visgevang toe die voorval gebeur.

Sy regtergewrig is vergruis en hy het weefselskade aan sy regterkuit opgedoen. Verdere werk is ook aan sy geamputeerde linkerarm gedoen. “Sy regtergewrig sal herbou moet word.”

Pieter sê Allan is Woensdagmiddag van Nelspruit, waar hy in die Mediclinic behandel is, na die Johannesburgse hospitaal gevlieg. Dit gaan onder omstandighede goed met Allan se familie.

“Hy is nie die eerste mens wat by die brug deur ’n krokodil aangeval is nie,” sê Pieter.