Attie Scholtz (35), ’n lusern-, mielie-, koring-, gras- en vleisbeesboer op Vaallus naby Kimberley in die Noord-Kaap, het op Donderdag 24 Oktober by ’n spoggerige geleentheid in Johannesburg die nasionale titel voor sewe ander provinsiale finaliste weggeraap nadat hy twee of drie maande gelede die provinsiale titel gewen het.

“Ek het dit glad nie verwag nie; ’n mens ding mee teen top-boere van oor die land,” sê Attie aan Huisgenoot. “Toe hulle my naam noem, was ek skoon bewerig.”

Behalwe sy wentitel het hy ’n splinternuwe Toyota Hilux-bakkie gewen, wat binnekort by hom afgelewer sal word. “Die wen is maar als te danke aan ’n puik span en vennootskappe wat my op die plaas ondersteun en natuurlik genade van Bo,” sê hy.

Volgens prof. Carlu van der Westhuizen, sameroeper van die paneel beoordelaars, het Attie se “vernuwende optrede en dryfkrag [. . .] sy boerderybedrywighede die afgelope sewe jaar aansienlik laat groei, ten spyte van die groot impak wat natuurrampe – twee oorstromings – op sy onderneming gehad het”.

Die paneel het ook sy boerderyvaardighede, arbeidsverhoudings en sy gelukkige werkmag, wie se behuisings- en leeftoestande hy help verbeter het, geloof.

Vir die dames wat grootoog wonder of Attie daaraan dink om sy hand aan die kykNET-werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou te waag, het hy slegte nuus. “Nee wat, ek is gelukkig getroud en het drie dogtertjies,” lag hy.

– Christiaan Boonzaier