Hierdie reeks keer Donderdagaand terug na kykNET en beloof om weer hope pret en vermaak aan kykers te verskaf. Dit is die eerste seisoen wat die borrelende model en ma van twee Minki van der Westhuizen as aanbieder optree. “Ons ontvang ’n gemiddeld van 1 200 briewe van die dames per jaar,” sê Elmarie Botha, vervaardiger van die reeks. Ná nege reekse staan hierdie getal al op 'n allemintige 11 000! En Donderdagaand moet kykers weer hul koppie tee betyds maak sodat hulle voor die kassie kan inskuif vir die eerste episode van die nuwe reeks, ook met ’n nuwe regisseur: Stephanus Rabie.

So wat kan kykers vanjaar verwag?

“Mense is mense, en onder druk met harte op die spel kan dinge maar onvoorspelbaar raak…” verklap Elmarie.

Sy glo “hoop” en veral die “hoop op liefde” is dalk die sleutel tot die reeks se sukses. “Dat jy iemand kan ontmoet en dat hulle dalk ’n lewensmaat sal raak. Die kykers hoop saam, raak saam kwaad, kies kant, ensovoorts. Basies gaan ons kykers saam met ons boere en meisies deur ’n hele reeks emosies tot en met die einde van die reeks.”

Elmarie sê meer as 100 boere het vanjaar ingeskryf om aan die reeks deel te neem. “Nie sleg as jy in ag neem dit is so spesifiek nie – ongetroud, enkellopend, boer, woon en werk op ’n plaas – en ons boere raak statisties al hoe minder in SA.”

Hoewel nie al die boere ewige liefde vind nie, het die reeks al ’n hele paar verliefde paartjies opgelewer. En sommige van hulle het selfs voor die kansel gedraai.

Elmarie weet van ten minste 10 troues wat al deur dié werklikheidsreeks opgelewer is. Een van die bekendste paartjies is die eerste reeks se Tickey en Selme-Louise.

“Dit is regtig vir my belangrik dat die deelnemers ’n kans kry om die meeste te maak van hul geleentheid om iemand op die prorgam te ontmoet.”

Volgens Elmarie bring die produksiespan ongeveer ses maande “aan en af” met die boere deur. “So ons leer hulle goed ken en dra hul belange op die hart.”

En behalwe vir die lekker-lag agter die skerms en die wonderlike mense wat Elmarie ontmoet, sê sy die onvoorspelbaarheid maak die reeks vir haar lekker en opwindend.

“’n Mens weet nooit hoe dinge gaan uitdraai of wat op ’n daaglikse basis gaan gebeur nie. Dit hou jou op jou tone.”

Boer soek ’n vrou begin 20 Oktober om 20:30 op kykNET (kanaal 144).