Simoné was vanuit die staanspoor seker sy het Christiaan in haar sak, maar dinge het klaarblyklik anders uitgedraai. Ons het hom van nader leer ken:

Hoe is die hele Boer soek ’n Vrou-ervaring vir jou?

Dis iets groeter as wat ek verwag het, maar die hele proses was ook ’n goeie selfondersoek.

Was jy senuweeagtig voor die kameras?

Ja! Ek dink nie ’n mens besef hoe senuagtig jy is en oorkom nie. Dit bly vreemd om jouself te sien, en ook die dinge wat jy dalk anders sou wou doen en sê.

Kykers kon soms die spanning tussen die dames aanvoel. Kon jy?

Ek dink nie ek was so bewus van die spanning nie en ook nie van wat die dames agter die skerms gesê het nie.

Simoné het op ’n stadium gesê jy is emosioneel onbetrokke. Dink jy jy was?

Ek dink ’n mens raak meer betrokke as wat jy verwag of gedink het jy sou. Veral my situasie was meer emosioneel, want by almal is kinders betrokke wat dit soveel meer ingewikkeld maak. Ook die besluite wat geneem word, het ’n groter impak en gevolge, wat meer mense se lewens beïnvloed.  Ek dink enige ouer is tot ’n mate emisioneel as dit by jou kinders kom.

Hoekom dink jy is die program so gewild onder kykers?

Ek dink die program is gewild omdat  die boere en dames eerlik, opreg en goed opgevoede mense is. Die boere is suksesvol in hulle boerderye. En wat dit opreg maak, is dat almal daar is vir die regte redes. Dis ook ’n baie goeie weerspieëling van ons boeregemeenskap en ons land.