Boer Marius en meisies

Dié vrugteboer van Prince Alfred Hamlet in die Wes-Kaap is ’n moderne boer wat meestal bo in sy pakhuis sit en op sy rekenaar werk. “Ek is sewe maande van die jaar in die pakstoor. Dan word my tyd verdeel tussen my kantoor en die pakhuis se vloer. Ons het ’n produksiebestuurder wat die dinge op die plaas hanteer. In die maande wat ons nie pak nie, maak ons saam besluite en boer dan meer fisies,” verduidelik hy.

Hy het sy diploma in bemarking aan die Boland-kollege op Stellenbosch en ’n landboukwalifikasie aan Elsenburg verwerf.

Tamsin en Jolandi is die twee vroue wat op sy plaas oor is. Maar wie gaan sy hart wen? Hy is op soek na iemand wat opreg is en die Here dien. “Iemand wat waardering het vir die klein goedjies wat ’n mens vir haar sal doen. Sy moet ’n lus hê vir die lewe en hou van opwinding en sport. Sy moet drome hê en haar eie ambisie. En ’n goeie humorsin.”

Ons het hom 10 vrae gevra om hom beter te leer ken:

1. As jy iemand met een lied op jou kitaar moet wys wie jy is, watter liedjie sal jy speel?

Ek het twee liedjies. Piekniek op die Maan van Zinkplaat en Last Kiss van Pearl Jam.

2. Wat is die mooiste bergfietsroete wat jy al gery het?

Vir my is dit sommer so ’n gewone Jeep-paadjie op ons familieplaas teen die Bergrivier, want dis waar ek grootgeword het en dis ongelooflik mooi. Dit het vir my baie betekenis.

3. Hoe sal jy jou beskryf?

Sjoe, mmm, dis vrek moeilik. Ek’s baie analities en doen berekeninge in my kop, maar ek het ’n sterk romantiese kant en dink ook ’n mens moet met jou hart besluit. Die twee bots soms. Maar ek’s ’n ordentlike boerseun. Dis nie so maklik om daai een te beantwoord nie.

4. Is jy versigtig om keuses te maak?

In terme van verhoudings, ja, want dis nie net my eie gevoelens wat ek in ag moet neem nie. Dis waar ek begin “sommetjies” maak, soos wat Ignus my sal spot.

5. Jy is nogal romanties. Wat is die beste goedjies om in ’n piekniekmandjie te pak?

Verseker vonkelwyn! En dan aarbeie en ’n Fairview-kaas of twee met beskuitjies. Whispers vir iets soets en dan dalk ’n goeie kouevleis. Dis maar die basiese. Dan is jy reg. O ja, en ordentlike vonkelwynglase.

6. Vertel ons meer oor jou tweelingbroer? Is hy enkellopend? Lyk julle dieselfde?

Ek en Abre is baie verskillend, maar ons kom baie goed oor die weg en ons kuier lekker saam. Ons is nogal goed met 30 Seconds, want hy kan byvoorbeeld net sê “man daai ding” dan weet ek meestal waarvan hy praat. Hy is enkellopend, ja.

Ek word seker beskou as die sosiaalste van ons twee, maar hy is net so sosiaal. Ook maar stil aanvanklik. En ons lyk baie na aan mekaar. As jy ons al twee nie ken nie, gaan jy nie weet wie is wie nie. Hy’t my nou die dag gebel en gesê die ou tannies pla hom in die winkel, want hulle dink dis ek! (Hy lag lekker.)

7. Jy hou van rooiwyn. Watter wynplaas is jou gunsteling en hoekom?

Beyerskloof! Want dis familie van my en ek het baie daar gekom toe ek ’n student was.

8. Dink mense soms omdat jy skaam is dat jy nie in hulle belangstel nie?

Ek dink soms so, ja. Ek kyk die kat uit die boom uit en dan sal ek ’n bietjie meer oopmaak.

9. Wat weet min mense oor jou?

Dat ek ook maar ’n stoute mannetjie kan wees. Ek is ordentlik en dan dink mense ek’s net prim en proper . . .

10. Hoe is die Boer Soek ’n Vrou-ervaring vir jou tot dusver? Sou jy ander ook aanraai om in te skryf?

Dis nogal ’n storie wat jou leë kan verander. Dis mal en ek geniet dit vreeslik baie. Mens groei baie daardeur en leer goed oor jouself. En ja, ek sal dit beslis aanbeveel. Dis ’n baie unieke ervaring!

Loren Pienaar (@Loren_Pienaar)