, Ina Boshoff. Jacobus het by die privaat natuurreservaat Bushwa op sy knieë gegaan en haar gevra om te trou – en as ’n bonus is dit alles op die kykNET-program Kwêla se kameras vasgelê.

Ina het in trane uitgebars en natuurlik ja gesê. Daarna het Bushwa hulle bederf met heerlike kos, wildritte en masserings terwyl hulle uitkyk oor die Waterberge.

“Ina het my vriendin geword, sowel as die ‘vroutjie’ vir wie ek baie lief is. Ons is ’n baie goeie kombinasie; ons doen als saam en lag en geniet die lewe. Wanneer sy nie by my is nie, mis ek al daai lekker laggies en soentjies,” sê Jacobus, wat ná drie jaar steeds smoorverlief is op Ina, oorspronklik ’n plaasmeisie van Newcastle.

Hy het presies geweet watter ring om te kry omdat hulle vroeër reeds na ringe gekyk het. Hy het ’n ring ontwerp wat gegrond is op ’n ontwerp waarvan Ina baie gehou het. “Ek is mal oor my ring en wil niks aan hom verander nie,” sê Ina, wat nou moet begin soek na die regte rok.

“Ons wil so gou moontlik trou. Ons dink ons het lank genoeg gewag en weet ons is gemaak vir mekaar. Ons het al begin dink aan die troue, en dit is vir ons baie belangriker om al ons familie en vriende op ons groot dag by ons te hê as om ’n duur troue te hou,” sê Jacobus.

Hy en Ina wil ook graag so gou moontlik met ’n gesin begin. “Ons wil sommer baie kinders hê. Ons is al twee baie haastig en opgewonde,” lag Jacobus.

En dit is nie net hul liefde wat vooruit boer nie – die stoet-Beefmaster- en gemengdesaaiery-boerdery doen goed, en die twee het in Julie ’n kontreiwinkel oopgemaak. “Ons het groot planne met Die Oase; ons gaan hom stap vir stap verbeter. Ons het baie selfvervaardigde produkte, kuns, meubels, curio’s, tuisgebak en ’n diereplaas met ’n speelpark vir kinders,” sê Jacobus. Maar vir nou het hulle eers ’n troue om te reël.