Dis sekerlik ’n romanse wat in die hemel gemaak is, want dis die enigste een wat gehou het onder die vyf boere van die tweede reeks van Boer Soek ’n Vrou . . .

Op sy asemrowend mooi vrugteplaas in die Langkloof tref ons Flip Kotze (56) aan waar hy steeds van oor tot oor glimlag oor die vrou wat verlede jaar so onverwags in sy lewe verskyn het.

Nes die ander boere is ook hy oorweldig deur stapels briewe van vroue wat hom wou ontmoet . . . maar toe loop hy toevallig vir Wenda Uys (50) by ’n musiekwinkel raak, en hy hou so baie van wat hy sien dat hy haar smeek om saam met sy keuse-vroue ook plaas toe te kom. Was dit dalk een van die geheime wat hul verhouding so besonders maak? Dat hý die jag-ter was wat sy juweel raakgesien en opgeraap het?

In hul gesellige huisie gesels ons oor koffie en vlatert wat sy self gemaak het. En terwyl Wenda praat, sien jy aan die manier waarop Flip na haar kyk dat hy ná meer as ’n jaar nog smoorverlief op hierdie vrou is.

“Ons trou eers vroeg aanstaande jaar,” sê hy, “omdat Wenda se dogter in Desember trou en ons dit eers wil afhandel. Maar dit voel asof al my drome waar geword het. “Ek het die plaas waarna ek my hele lewe lank gesmag het en eindelik ook ’n vrou vir wie ek elke dag net liewer word.’’

Hy werk hard op Boskloof, waar die perskes in Maart geoes is, die laaste appels ook pas afgelewer is en die vrugtebome eersdaags vir die nuwe seisoen gesnoei moet word.

Bure praat van die plaas wat hy binne minder as twee jaar omgetower het. Hulle het dit nog nooit so goed sien lyk soos nou nie, met grond wat weer bewerk word en aartappels, pampoen en kool wat deesdae by die lorrievragte van die plaas weggery word – alles die werk van ’n man wat geluk gevind het en met ’n lied in sy hart opstaan.

Dit is juis albei se liefde vir die natuur, om in die veld te stap en die suiwer lug daar onder die Kammanassie- en Outeniekwaberge in te drink en die veldblomme te ruik, wat hulle na mekaar aantrek, vertel hulle. “Dit voel asof ons op ’n wittebrood is wat nooit gaan eindig nie,” sê Flip.

Die volledige artikel verskyn in Huisgenoot van 20 Mei 2010.