Drie aanvallers het Johan (59) en Jeanette (54) Meyer van die plaas Rietpoort vroegoggend in hul huis ingewag. Die mans, wat vermoedelik in die nag toegang gekry het, het weggekruip tot een van die egpaar wakker geword het.

Jeanette vertel sy is omstreeks halfsewe by die huis uit om hul twee poedels buitentoe te neem. Dit was toe dat een van die aanvallers by die voordeur waar sy uit is, die huis uitgehardloop gekom en buite op haar toegeslaan het.

“Ek het net vrees ervaar," het Jeanette Woensdag aan Huisgenoot vertel van haar en haar man se ontbering. "Ek kan nie vir jou daardie magteloosheid beskryf nie. Ek was buite myself van magteloosheid.”

Sy het geskree Johan moet kom help, maar sou later uitvind die ander twee aanvallers het hom in die slaap in hul kamer oorval en ernstig begin aanrand.

Dié mans, wat veel meer aggressief was as die een buite by Jeanette, het Johan na bewering drie keer geskiet nadat hy wakker geskrik het. Hy het vergeefs vir sy eie pistool langs die bed probeer reik, maar kon nie gou genoeg die veiligheidsknip afhaal nie.

Hulle het hom met hulle 9 mm-pistool op kort afstand twee keer skrams teen die kop getref, terwyl ’n derde koeël sy agterkop geskraap het. Die skote het wonderbaarlik nie sy skedel binnegedring nie, maar die aanvallers het hom glo aanhou bydam met ’n koevoet.

Jeanette vertel die kleinerige man by haar het haar bly vashou vandat hy haar oorval het. Naby die voordeur het hy haar gestamp en het sy oor ’n muurtjie in ’n badjie vol water geval. Haar man was gewoonlik die modder van sy stewels daarin af voor hy die huis binnekom.

Sy het toe haar arm beseer. “Ek dink vanweë die adrenalien het ek dit nie eens gevoel nie.”

Jeanette onthou die man het haar uit die water gehelp en die huis binnegelei. Dit was toe dat sy hoor daar is beweging in die slaapkamer by haar man.

Sy het geen van die skote gehoor nie. Johan sou later onthou hy het net een skoot gehoor. Vermoedelik het die aanvallers ’n knaldemper gebruik.

Dit het later geblyk die mans het toegang tot die huis verkry deur ’n skuifdeur wat die Meyer-egpaar nooit gebruik nie. Hulle het vermoedelik die deur met die koevoet oopgeskuif en die geslote traliehek oopgebuig. “Ons het eenuur (daardie oggend) gehoor die honde blaf, maar hulle kon enige tyd tussen een- en vieruur ingekom het.”

Jeanette vertel die man by haar het haar hande agter haar rug vasgebind en haar na die kamer gevat waar sy haar bebloede man op die mat sien lê het.

“Sy linkeroog was al so groot soos ’n gholfbal geswel toe ek hom sien.” Jeanette vertel hoewel sy vreesbevange was en nie geweet het wat volgende met hulle sou gebeur nie, kon sy wel sien Johan haal nog asem. Die aanvallers het haar naby hom laat lê, haar bene vasgebind en geld en die kluis se sleutels geëis.

“My mond was teen dié tyd so droog, ek kon skaars praat. Ek het verduidelik dat ek pas van vakansie (saam met ’n vriendin in Durban) teruggekom het en dat daar nie veel geld in die huis is nie. Ek kon sien hulle raak ál meer gefrustreerd omdat hulle nie kry wat hulle wil hê nie.”

Sy het hulle beduie waar die kluis se sleutels is. Hulle het deur die huis “geskarrel” en geld uit die egpaar se beursies, kaste en kluis gebuit, asook drie selfone, van haar juwele en bosse sleutels.

Toe sy hoor die mans gaan by die huis uit, het Johan die eerste keer vir haar gesê: “Ek is in die kop geskiet.”

Die mans het in een van hul bakkies gevlug. Jeanette het daarin geslaag om haar hande los te wikkel. “Ek weet nie of hy net stupid was of dit soos sy alie gedoen het nie, maar ek het losgekom en my bene losgemaak.”

Jeanette het toe ook haar erg beseerde man se hande en voete losgemaak. Sy het kaalvoet en in haar nagklere met ’n grondpad langs na die buurplaas gehardloop.

In ’n stadium, toe sy ’n bakkie hoor, het sy gevrees die aanvallers keer terug. Sy het agter ’n boom weggekruip, maar dit was gelukkig die buurman. Nog bure is ontbied wat gehelp het om Johan na die Heidelberg-hospitaal te neem.

Daar is hy gestabiliseer voor hy na die Life Glynwood-hospitaal in Benoni oorgeplaas is. Jeanette vertel hy het meer as 100 steke in sy kop gekry.

“Sy linkeroog lyk sleg. Ons sal dié week nog die oogspesialis sien om te bepaal wat die omvang van die skade is . . .” Sy vertel hy sal na verwagting aan die einde van die week ontslaan word.

Gevra of sy dink dit is ’n wonderwerk dat veral Johan oorleef het antwoord sy:

“Ek sê net: Die Here was die hele tyd daar. Hulle kon ons soveel meer skade aangerig het. My man sê dit ook en hy is nie eens so gelowig soos ek nie.

"Ek meen: Hulle was bo-op hom; hulle het hom op ’n kort afstand in die bed geskiet. Hy sê ook: Die Here was daar.”

Sers. Nelly Ledwaba, plaaslike polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig, maar sê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Klagte van huisroof en poging tot moord word ondersoek.