PJ Nortjé (60), ’n boer van die plaas Tiervlei buite Cradock in die Oos-Kaap, is Donderdagoggend dood in ’n fratsongeluk toe sy eie jaggeweer sy lewe geëis het.

PJ, ’n pa van drie seuns, het glo die oggend vroeg koffie gedrink toe hy rondloperdiere op die werf opmerk. Hy het sy .270-jaggeweer uit die kluis gehaal om hulle te verdryf.

Volgens ao. Louis Stone, polisiewoordvoerder, gee die veiligheidshek by die plaashuis se voordeur probleme en sukkel die gesin soms om dit oop te kry.

Terwyl PJ gesukkel het om die hek oop te maak, het die geweer op die grond geval en ’n skoot afgevuur. Die koeël is onderdeur PJ se ribbes in en bokant sy borskas uit.

Hy is op slag dood.

“Met die polisie se aankoms, het PJ se koppie koffie nog daar gestaan,” het Louis aan Huisgenoot gesê.

“Ons vermoed toe hy die ongediertes sien, het hy die wapen gaan haal en dadelik oorgehaal.

“Geen misdaad word vermoed nie. Nadat die nadoodse ondersoek dieselfde dag afgehandel is, is vasgestel dat dit 'n verskriklike fratsongeluk was.”