Brigitte Baard (28), ’n eiendomsagent van Jan Kempdorp in die Noord-Kaap, het maar gesukkel om op Saterdag se rugbywedstryd tussen die Cheetahs en die Bulle te konsentreer, want die opwinding van verloofraak was hopeloos te veel.

“Ek het net in ’n stadium 28:31 gesien, so ek weet darem die Cheetahs het gewen,” sê sy laggend.

Haar kêrel van die afgelope twee jaar, Albert Olivier (27), het haar kort voor die afskop van die wedstryd gevra om te trou.

Albert, wat boer in die Jan Kempdorp-omgewing, het gemaak asof hy in die Kaap is en Brigitte het spesiaal van Jan Kempdorp deurgery om saam met haar aanstaande familie die rugbywestryd in Bloemfontein te kyk, het Netwerk24 berig.

Albert het vooraf met Vrystaat Rugby gereël dat Brigitte ’n prys, wat sy kastig tydens ’n gelukkige trekking gewen het, op die veld moet gaan haal.

[caption id="attachment_162370" align="aligncenter" width="600"]Hier is Albert se suster, Ciska en haar man Charl Bekker, saam met hom en Brigitte by die stadion. Foto verskaf. Hier is Albert se suster, Ciska en haar man Charl Bekker, saam met hom en Brigitte by die stadion. Foto: Verskaf.[/caption]

Maar toe sy haar prys wou gaan haal, het Albert te voorskyn gekom, voor haar gekniel en die ja-woord gevra.

“Ek het nie geweet dit gaan só ’n groot verrassing wees nie,” vertel Brigitte aan Huisgenoot. “Dit is enige vrou se droom. Ek het eintlik al begin moed opgee,” skerts sy.

Brigitte en Albert het mekaar bietjie meer as twee jaar gelede op ’n maatsoekwebtuiste ontmoet. Boonop het Brigitte nog voor hul eerste afspraak uitgevind dat ’n goeie vriendin ook vir Albert ken.

“Ons het toe in dieselfde omgewing (Jacobsdal) gewoon maar net heeltemal verby mekaar geleef,” vertel sy. Sy meen egter hulle het tydens hul eerste afspraak dadelik gekliek.

Brigitte sê die witgoud- en diamantring wat Albert aan haar vinger gesteek het, is ekstra-spesiaal omdat sy dit verlede jaar tydens ’n bootreis raak gesien het en vir Albert gewys het. Hy het die ring toe stilletjies gaan koop en gebêre.

[caption id="attachment_162371" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto: Verskaf.[/caption]

“Maar ek het al een keer by die huis daarop afgekom,” sê sy en lag lekker oor die gedoente.

Sy meen dit het egter nie die verrassing bederf nie, want sy het steeds nie geweet wanneer hy haar nou eintlik sou vra om sy vrou te word nie. Nóg minder hoe hy dit sou doen.

[caption id="attachment_162368" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto: Verskaf.[/caption]

Hulle het nog nie ’n troudatum nie, maar het al aan ’n gastelys begin werk.

“Ons is nog onder 100 mense, maar ek dink dit gaan vinnig meer raak.”

Netwerk24 het hierdie video van die spesiale oomblik gedeel: