As jy daarvan hou om in die diep, donker poele van die mens se skadukant te swem, dan is dié speur-en-spanningsverhaal presies jou doepa. 

Dit is ’n woeste bangmaakstorie vol klipharde donderweer en vlymskerp blits, die hemele wat oopskeur en sinjaalrooi  bloed wat hard uit wolke neergiet.

As jy van ’n sagte motreëntjie en spook­asem hou, bly liefs weg.

Die boek handel oor drie ernstig emosioneel beskadigde mense: Sam, Hottie en Marco is ’n verrinneweerde driemanskap wat met meer bagasie deur die lewe hinkepink as al die bagasielaaibande op Heathrow.

Marco is ’n verslaafde; daar is min hoop vir hom. Hottie is diep gekneus; vir hom het die dobbelsteen in ’n hartseer lewe inderdaad verkeerd geval. Hy raak by gewapende rooftogte betrokke en beland in die tronk.

Sam is ’n bondel gevaarlike persoonlikheidsafwykings, waarvan psigopatie waarskynlik die primêre een is.

Een angswekkende nag, amper soos in ’n Walpurgisnag, ontmoet die drie mekaar toevallig in ’n bloedbad op ’n plaas.

Die boek lees maklik, die redigering is puik en die tempo is blitsvinnig en meedoënloos. En hou maar die vlugsout reg; dalk het jy en ouma dit albei nodig.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Soek jy ‘n winskopie? Kry hierdie produk teen die beste prys. KLIK HIER