Dis soos om ’n slag weer te kuier saam met ou vriende: die speurders Pine Pienaar en Kat Harmse en die kostelike Freislich-gesin van Virginia in die Vrystaat . . . ’n Mens wens net dit was in beter omstandighede.

Dié keer is daar meer as een misdadige monster om teen te veg, waarvan die ergste dwelms is. ’n Hoofkarakter word ingesuig deur tik – die verslawende dwelm metamfetamien. Daar is ’n sekte met ’n enigmatiese leier, Vader, aan die hoof daarvan wat dalk vir plaasmoorde en aanvalle verantwoordelik is.

Dis die vierde boek in Piet Steyn se Pine Pienaar-reeks. Baie van die karakters is so kommin soos pienk gras. Dis lekker om van hul wel en wee te lees soos dit lekker is om Klipdrift en Coke by ’n langarmdans te drink.

Die fokus is dié keer ’n bietjie meer op Kat. Hy is nou deel van die Valke en word na die Vredefort-koepel gestuur om ’n konferensie oor tikverslawing by te woon en om die verdwynings daar te ondersoek. Kat sal versigtig moet trap tussen die bygelowe en agterdog van die mense in die koepel. En dan het hy ook nog muisneste oor die mooi forensiese patoloog dr. Annie de Villiers wat “sy snor laat jeuk’’.

. Dis ’n lekkerlees-toevoeging tot die boekrak van liefhebbers van Suid-Afrikaanse misdaadromans.

- Pieter van Zyl