Die Springbok-legende, daarenteen, sê in hofstukke sy lewe is op die spel. Die bykomende stres van 'n boek oor sy lewe kan dalk sy dood verhaas word, beweer Joost. Hy ly aan motorneuronsiekte en het 'n brief van sy neuroloog by die hof ingedien wat bevestig dat stres 'n baie nadelige uitwerking op MNS-lyers het.

Joost het vandag in 'n rolstoel by die Paleis van Justisie opgedaag. Verskeie fotograwe het hom in die pad na sy motor gevolg terwyl vriende hom so vinnig moontlik gestoot het. 'n Aansienlik maerder en gryser Joost as waaraan die publiek gewoond is, het net in sy rolstoel bly sit.

Regter Eberhard Bertelsmann moes Joost se dringende aansoek om 'n hofbevel teen die boek Joost & Amor vanoggend aanhoor, maar het die saak laat oorstaan weens 'n oorvol hofrol.

Die saak sal nou môre aangehoor word.

Gavin staan die aansoek teen deur te sê  die meeste van die inligting in die boek is reeds in die openbare domein. Hy beskryf homself in hofstukke as 'n "hegte vriend en vertroueling" van die glanspaar wat al as Suid-Afrika se "Posch en Beckham" beskryf is. Hy sê ook Joost praat nog gereeld met die media en deel besonderhede van sy lewe op Twitter.

Vir die boek het Gavin onder meer 'n onderhoud met die privaat speurder Mike Bolhuis gevoer oor die nou reeds bekende seksvideo. Hy sê in hofstukke die paartjie het hom gereeld oorgenooi, storie-idees aangedra en in hul vertroue geneem. Gavin het "vasgevang" gevoel tussen Amor en Joost tydens die stormagtige episodes van die paartjie se huwelik, sê hy.

Herman Scholtz