Die Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld en sy vrou, Annatjie, sal later vandag 'n babaseuntjie ryker wees.

Die paartjie het gehoop op 'n natuurlike geboorte maar teen Maandagoggend het die nuweling nog nie sy verskyning gemaak nie.

Bobby het gisteraand nog getwiet; "Nou ja, as Sion nie vanaand kom nie, moet ons Maandag drie-uur keiser."

"Ons sukkel om te slaap vanaand. Ons koppe werk deur baie goed. Maar God is in beheer," het Bobby geskryf.

Annatjie sal na verwagting 15:00 'n keisersnit ontvang.

Boodskappe van gelukwensing en sterkte het gisteraand en vanoggend vir die Van Jaarsveld-gesin ingestroom op beide Facebook en Twitter.

Die seuntjie, Sion, is die paartjie se eersteling. “Ons het al klaar besluit op sy naam – Sion. Dit beteken om die hoogste roeping te bereik, sterk staan soos ’n berg en ook hemels. Die naam kom van die berg Sion in die Bybel,” het Bobby vroeër aan Huisgenoot vertel.

Die verwagte aankomsdatum van die nuwe pienkvoet was reeds vroeg hierdie maand.

Baie geluk aan die nuwe ouers.

Die sonarfoto van Sion wat Bobby onlangs op Facebook gedeel het :