Die geliefde sanger Bobby van Jaarsveld het ’n roerende boodskap op Instagram gedeel waarin hy sy aanhangers om verskoning vra dat hy nie Maandagaand ’n vertoning by die Barnyard-teater in Parkview sal kan lewer nie omdat sy stembande ná ’n operasie verlede week nog nie ten volle herstel het nie. Die Spieëltjie-sanger het verlede week vir die tweede keer vanjaar ’n operasie aan sy stembande ondergaan. Hoewel laasweek se operasie suksesvol was, is hy nog nie in staat om op te tree nie, sê hy. In ’n hees stem begin Bobby die video deur eerstens sy aanhangers om verskoning te vra dat hy vanaand se vertoning in Parkview sal moet kanselleer. Hy brei dan uit oor verlede week se operasie. “Ek het gedink my stem gaan weer terug en reg wees, maar soos julle kan hoor klink dit nie goed nie en ek kan nie so op ’n verhoog klim en sing nie.”

“Ek is ongelooflik jammer daaroor,” sê hy, terwyl hy hoorbaar emosioneel raak en sukkel om die trane terug te hou. Volgens die sanger het hy die naweek daarin geslaag om een liedjie te sing, vermoedelik tydens ’n oefensessie.

Terwyl Bobby hard sluk, vra hy weer om verskoning. “Ek is regtig uit my hart uit jammer.”

Ronel Brink, Bobby se ma en bestuurder, het by navrae bevestig dat Bobby nog besig is om te herstel. “Ons wil nie regtig daaroor uitbrei nie,” het sy aan Huisgenoot gesê, “maar ons glo en vertrou hy sal teen komende Vrydag 100% reg wees.” Volgens Ronel gaan Bobby Dinsdag weer dokter toe. Oor die oorsaak van haar seun se stembandprobleme is sy self onseker, sê Ronel. “Ons weet nie, ons het nie regtig antwoorde nie.” Vanaand se vertoning word uitgestel tot verdere kennisgewing, maar Bobby bevestig in die video ’n nuwe datum gaan binnekort bekend gemaak word. Ons hoop regtig jy word gou gesond, Bobby!