Vir Bobby van Jaarsveld sal dit een van die grootste uitdagings van sy loopbaan wees, maar hy sien kans daarvoor.

“Met God by my kan ek enigiets doen,” het Bobby gister aan Huisgenoot gesê nadat dit bekend gemaak is dat hy die rol van Moses sal vertolk in ‘n musiekblyspel wat in 2013 op die planke sal wees.

Bobby sou oorspronklik die rol van Dawid vertolk, maar dié planne is laat vaar nadat dit aan die lig gekom het dat daar reeds só ‘n produksie beplan word.

“Ek sal maar solank begin om my baard te groei vir 2013. Ek is nie so harig nie en sukkel maar,” het Bobby spottenderwys gesê.

“Dit is vir ‘n groot eer om so ‘n legendariese ikoon te vertol. Ek sal julle trots maak.”

Huisgenoot se lesers was ook baie opgewonde toe die nuus gister op ons Facebookblad aangekondig is.

“Hy sal nogal 'n mooi Moses uitmaak,” het Martie Coetzee Theron geskryf.

“Hierdie  blyspel beloof om Afrikaanse musiekteater geskiedenis te maak wanneer dit in 2013 op die planke gebring word,” het Johan Vorster en Arnold Coleske, die vervaardigers van die produksie, gesê.

Volg Huisgenoot op Twitter.