Die Spieëltjie-sanger het Maandagmiddag in ’n inskrywing op Facebook vertel ’n booswig het sy suster se motorruit uitgeslaan en haar handsak gegryp. “Hulle is almal oukei. Die kinders is net geskok,” het Bobby geskryf.

Hy het Dinsdag weer aan Huisgenoot bevestig sy kinders is fine. “Maar ons gaan hulle beslis vir berading of iets neem,” sê hy. Volgens hom was dit erger vir Leben (3) as vir Sion (4). “Leben is nou baie bang en vertrou niemand. Sion is jonger, maar dis vir ons almal erg.”

Dalene Rathnum, ’n traumaberader by Family Life Centre in Johannesburg, sê kinders hanteer trauma in verskillende fases. “Hulle ervaar dieselfde veg-of-vlug-reaksie, maar omdat kinders in die algemeen baie sensitief is, sal hulle ook angs ervaar. Nagmerries, bednatmaak en ’n verandering in eetpatrone kan ná ’n traumatiese gebeurtenis volg.”

Volgens Dalene kan kinders ook klouerig aan hul ma en pa wees ná so ’n gebeurtenis. Daarom meen sy is dit goed dat ouers hul kinders se onderwysers inlig wanneer hul kinders so ’n trauma ervaar.

“Omdat kinders verskillend op die trauma kan reageer, kan sommige kinders ander kinders afknou omdat hulle nie weet hoe om dit te hanteer nie,” sê sy. En as onderwysers nie weet wat die onderliggende oorsaak van die kind se gedrag is nie, kan hulle verkeerdelik dink hulle is stout.

Die belangrikste vir Dalene is dat kinders wat deur trauma gegaan het, gou weer in ’n roetine kom waaraan hulle gewoond is. “Dis belangrik om die gesin bymekaar te hou.”