“Het nou net wakker geword na my neusoperasie. Alles goed gegaan en behoort vandag ontslaan te word!” het hy verlede week Woensdag geskryf.

Die neusoperasie was ’n klein prosedure wat hy vir sinus moes ondergaan. “Ek het al jare lank ’n sinusprobleem en het gesukkel om te slaap omdat ek nie asem gekry het nie. My stembande het ook vinnig moeg en seer geraak omdat daar nie genoeg vog deur my neus na my stembande toe gevoer kon word nie,” het hy vertel.

[caption id="attachment_58211" align="aligncenter" width="480"]Bobby in die hospitaal Bobby in die hospitaal[/caption]

Hy verduidelik dat kraakbeen die binnekant van sy neus begin toegroei het. “Dit het veroorsaak dat geen lug kon deur kom nie.”  Daarom het hy besluit om dié operasie te ondergaan.

Hy moes onder narkose gaan. “Hulle het my neus oopgemaak en die kraakbeen en been wat oortollig was verwyder deur dit te breek en te skuur tot teen die neusbeen.”

Later die aand het hy ’n foto van hom op Facebook gesit (sien onder) met ’n neus stut aan. “So ek’s besig om die kidz te bad maar ek dink ek maak hulle skrik met my nuwe ‘look’ ná my operasie . . .” het hy speels geskryf.

Bobby neus een

Alles het goed afgeloop, en Bobby is weer reg om volstoom te sing en rustig te slaap. “Ek voel baie beter. Alles is regstel en ek is ’n ander mens wat nou deur my neus kan asemhaal.”

Buitendien is hy vanaand by die première van die musiekfliek As Jy Sing by Brooklyn Mall in Pretoria. “Ek sien so uit na die uitreiking van die film! Ek dink die publiek gaan baie verbaas wees daroor en dat dit baie diep in die Afrikaner se hart gaan inklim! Dis verseker een van die hoogste punte in my lewe . . .”

Deur: Loren Pienaar (@Loren_Pienaar)