Die Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld is nou deel van die Skooltassieprojek, ‘n projek van Solidariteit Helpende Hand.

Dié projek mik om geen Afrikaanse graad een-leerder skool toe te laat gaan sonder die nodige skryfbehoeftes nie.

Bobby wil help omdat hy weet hoe dit voel om swaar te kry, sê hy.Hy was in agt verskillende laerskole. “Ons het baie rondgetrek en swaargekry. Ons vriende en maatjies het ons baie gehelp en nou wil ek die maatjie wees wat ander help,” het Bobby vertel.

Bobby het onlangs saam met Solidariteit Helpende Hand besoek afgelê by Beyers Bytjies om bewusmaking oor die Skooltassieprojek te skep.

Die projek het in 2007 begin en sedertdien is 12 500 skooltassies aan behoeftige graad een-leerders voorsien.

Sedert hy pa geword het van klein Sion (ses weke) sê Bobby hy kyk nou heeltemal anders na kinders. Hy en sy vrou, Annatjie, doen soveel moontlik navorsing om seker te maak hulle gee vir Sion alles wat hy nodig het.

“Dit skeur jou hart wanneer jy sien hierdie kinders het nie eers die basiese goed nie en as ? ouer wil jy amper nie glo dat hulle nie skryfbehoeftes op hulle eerste skooldag gaan hê nie,” sê Bobby.

“Maar wat ons wel kan doen, is om te help.”

Hoe kan jy help?

Daar is verskeie maniere waarop die publiek kan help: SMS die woord “tassie” na 34388 (? SMS kos R2) en ? agent sal jou skakel om vas te stel hoeveel jy wil bydra. Die koste van een tassie is R200.

Kontak Helpende Hand by 0861 25 24 23 of 012 644 4390, of gaan na die webwerf vir meer inligting oor die Skooltassieprojek.

Om ‘n skenking te maak, is die bankbesonderhede: Solidariteit Helpende Hand, Absa-rekening: 407 225 0017, Centurion-tak: 632 005. Gebruik die woord “tassie” as verwysing. Faks bewys van betaling na 086 218 3216.