Bobby en Karlien het altesaam 36 000 km afgelê om die reeks te maak.

In die laaste episode, wat op 5 April uitgesaai is, sê Bobby dit is vir hom moeilik om die beste oomblik te kies.

Verskeie organisasies het baat gevind op die skareskenking-webtuiste Candystick danksy die twee se onwrikbare toewyding tot die verbetering van omstandighede vir oud en jonk, mens en dier.

Die filantropiese polisieman Andries Douglas en sy vrou, Eugéne, van Ceres het ’n oorsese vakansie gekry. Bobby en VIA het in samewerking met Mauritius-toerisme en die Heritage Awali-gholfoord en -spa vir die paartjie ’n vakansie in Mauritius geskenk.

  Bobby het tydens The Voice 2016 in die talentvolle blinde sanger Vernon Barnard se skoene gestap.

’n Spa-dag het op die span hardwerkende padwerkers gewag nadat Karlien en Bobby ’n dag saam met hulle deurgebring het.

  By die Droom-tehuis op Riversdal het Bobby en sy vrou, Annatjie, twee dae deurgebring. Daar het hulle geleer van die vreugdes en werklikhede van ouerskap. Karlien kon twee dae in die skoene van haar huishulp, Bingo Ramatsetse, stap. Dit het daartoe gelei dat sy vir Bingo, wat ’n groot rol in haar lewe speel, kon help om haar eerste badkamer te laat bou. Bingo se ma van 95 kon vir die eerste keer bad in ’n ingeboude bad.

A post shared by Karlien (@karlienvanjaarsveld) on

Die El-Shammah Home for Abandoned Babies is gered. Nie net kon R339 465 op Candystick ingesamel word nie; nog R478 000 is deur Bobby, Karlien en Jacaranda FM se Goodmorning Angels ingesamel.

  Die Abraham Kriel-kinderhuis het R65 390 ontvang, die Pittrack K9-renosterbeskermingseenheid R19 865 en die Flamingo-projek by die Groote Schuur-hospitaal R106 015.

Danksy die episode waartydens Bobby en Karlien saam met Hanna Charity Elandspoort besoek het, het ’n anonieme kyker vir een van die inwoners ’n huiswinkel gebou terwyl ’n ander inwoner ’n prostese en nuwe rolstoel gekry het.

  Een van die inwoners, net bekend as tannie Anna, is in ’n sopkombuis gebore en het jare lank koerante verkoop en eindelik die stryd teen kanker verloor. Behalwe dat R53 050 vir Elandspoort ingesamel is, het die storie van tannie Anna vir Chris Else geïnspireer om ’n liedjie oor haar te skryf. Dié reël uit die liedjie “Alles Lyk So Anders As Ek In Jou Skoene Loop” som die reeks volmaak op.

A post shared by Karlien (@karlienvanjaarsveld) on

Candystick.co.za sal steeds beskikbaar wees indien iemand vir enige van hierdie organisasies geld wil skenk.