Die bekende boet en sus Bobby en Karlien van Jaarsveld het met ’n reuse-geldinsameling ’n dak oor die kop van 18 verstote babas gehou.

Die Van Jaarsvelds het die El-Shammah-tehuis vir verworpe babas help red nadat altesame R951 000 teen Woensdagoggend ingesamel is.

Dit kom nadat hul TV-program, Bobby en Karlien: In Jou Skoene, op VIA, die tehuis se nood onder mense se aandag gebring het.

Bydraes stroom steeds in nadat Bobby en Karlien in die skoene van Dianne Broodryk van Jacaranda FM se inset Good Morning Angels geloop het.

Sy het hulle na dié tehuis in Germiston gestuur waar verstote babas versorg word. Daar het hulle uitgevind die eiendom is te koop en die egpaar wat die projek bestuur, Allistair en Merencia Scholtz, R850 000 benodig om voort te gaan met die versorging van tot 18 babas op ’n slag.

Bobby en Karlien het aanvanklik R300 000 ingevorder. Daarby het barmhartiges nog R337 670 op die skareskenkingwebtuiste Candystick gegee en Merencia sê daar is verder sowat R70 000 in die tehuis se rekening inbetaal.

Woensdagoggend het Bobby en Karlien met Dianne Broodryk en Rian van Heerden op hul Jacaranda FM-program ’n laaste insameling gedryf en die totaal opgestoot tot ’n ongelooflike R951 000.

“Dit is ’n groot verligting en ons is baie dankbaar vir al die bydraes en ondersteuning wat ons ontvang het,” het ’n ekstatiese Merencia gesê.

  • Skakel om 20:30 op Woensdag 22 Maart in op VIA (DStv-kanaal 147) vir ’n splinternuwe episode van Bobby en Karlien: In Jou Skoene.