“Dis amper soos om Spiderman te probeer opspoor,” sê Wendy Wilson, ’n natuurlewe-inspekteur van die DBV.

“Dié spesifieke bobbejaan is al ’n ruk lank in die omtrek. Hy beweeg in en uit voorstedelike gebiede. Dis nie die eerste keer dat hy ’n draai in die voorstede maak nie.”

Hy was nie al rondloper-bobbejaan in die stad nie. ’n Paar bobbejane het gekom en gaan in woongebiede omdat mense hul natuurlike habitat binnegedring het. “Ons los vir hulle ál minder ruimte om te beweeg. Die troppe is onder ál meer druk om te oorleef,” sê Wendy.

“Hulle verdryf diegene wat nie nodig is in die tropdinamika nie en hulle word agtergelaat om self te sien en kom klaar.”

Die bobbejaan is al sowat ’n week in die voorstede. “Dr. Brett Gardner (’n veearts) van die Johannesburg-dieretuin sê hy (die bobbejaan) is nogal slim,” sê Wendy. “Einde verlede week en die afgelope naweek het ons hom ’n paar keer met ’n pylgeweer probeer skiet. Hy herken motors, veeartse en pylgewere. Hy is slim en altyd een stappie voor ons.”

Sy sê hoewel die bobbejaan geen tekens van aggressie toon nie, is dit raadsaam om hom nie in ’n hoek te dryf of bedreig te laat voel nie. “Hy is vinnig en klim oor heinings en mure, maar het nog nie honde of katte seergemaak nie.”

Mense kan die DBV laat weet as hulle hom gewaar. “Die belangrikste is dat ons moet weet waar hy is en wat hy doen. Ons het iemand nodig wat hom solank as wat hulle kan, dophou wanneer hulle ons bel.”

Die volwasse bobbejaanmannetjie is laas in die Observatory-gebied in Johannesburg gewaar. “Die DBV doen ’n beroep op mense om nie die bobbejaan op enige manier te teister of mishandel nie omdat dit gevaarlik vir mense en die bobbejaan is,” sê Wendy.

Die bobbejaan het in April verlede jaar groot konsternasie veroorsaak toe hy in die suidelike voorstede van Johannesburg rondgedwaal het. Die Johannesburg-dieretuin het destyds gesê hy hou ’n bedreiging in vir inwoners en hul troeteldiere.

“As hy byvoorbeeld ’n troetelhond teëkom, sal die bobbejaan, afhangend van hoe groot die hond is, hom dalk doodmaak deur die hond se bolyf uitmekaar te skeur, of hom selfs optel en die hond teen iets gooi tot die hond vrek,” sê Letta Madlala, ’n woordvoerder van die dieretuin.

“Bobbejane val nie gewoonlik mense aan nie, behalwe wanneer hulle bedreig of vasgekeer voel. Dan sal hulle byt en dis geweldig seer, want hul oogtande is groter en langer as ’n leeu s’n.”

Dis onbekend of dit dieselfde dier is wat in die jongste gevalle gewaar is.