Johan Ackermann, hoofafrigter van die Leeus-rugbyspan, sal sy posisie aan die einde van die 2017 Superrugbyseisoen verlaat vir ’n pos by die Engelse klub, Gloucester. Hy sal die Engelse klub se hoofafrigter wees vir die 2017/2018-seisoen.

In ’n brief aan die Leeus het Ackermann geskryf hy het by ’n kruispad in sy loopbaan gekom en glo sy afrigtingsreis moet verander vir hom om (as afrigter) te groei. Ackermann (46) is in 2013 as die Leeus se hoofafrigter aangestel nadat hy sedert 2010 assistentafrigter van dié Superrugbyspan was. Sy tyd by die Lions word as uitstaande bestempel.

In sy tyd as afrigter het die Lions in 112 wedstryde gespeel, waarvan 57 Superrugbywedstryde was. Hiervan het hulle 34 gewen, 24 verloor, een gelykop geëindig. Die afgelope drie jaar is hy aangewys as SA Rugby se afrigter van die jaar en hy het in 2016 die SA A-span afgerig. Onder Ackers, soos hy genoem word, se leiding het die span in sy eerste termyn as afrigter sewe uit 16 wedstryde gewen – die meeste Superrugbywedstryde wat die span nog gewen het sedert die ontstaan van Superrugby. As hoofafrigter het Ackermann die Emirates Lions in 2016 na die finaal van die Vodacom Super Rugby teen die Hurricanes gelei.

Ackermann het as speler verskeie hoëprofielspanne in 180 wedstryde verteenwoordig, waaronder die Springbokke in 13 wedstryde.

Rudolph Straeuli, hoofuitvoerende beampte van Lions Rugby, het gesê hy respekteer die besluit en wens Ackermann alles van die beste toe.

“Ek hoop hy groei in die nuwe hoofstuk van sy loopbaan en keer as selfs ’n beter afrigter na Suid-Afrika terug. Ackers is ’n waardevolle bate vir die Lions, ons gemeenskap en ons kultuur, en belangriker selfs, vir SA Rugby.

“Johan sal gemis word, maar ons het ervare afrigters in ons strukture wat kontinuïteit sal verseker,” het Straeuli gesê.