Hy is vroëer vanjaar in die hooggeregshof in Johannesburg skuldig bevind aan die verkragting van twee meisies en onsedelike aanranding van 'n derde. Hy was dié meisies, wat almal nou vroue in hul 40’s is, se tennisafrigter toe hulle jonger was.

Bob, wat in die 1970’s die tennisbane oorheers het en in beide die mans-dubbelspel en die gemengde dubbelspel saam met medespelers, het al die Amerikaanse Ope, Wimbledon, die Australiese Ope en die Franse Ope gewen. Hy is vroeër toe tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die tennisheld het hom tot in die hoogste hof in die land gewend om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer. In elke hof is sy aansoek van die hand gewys.

Zama Feni, woordvoerder van die departement van korrektiewe toesig in die Oos-Kaap, het aan Huisgenoot bevestig Hewitt het homself om 07:00 vanoggend oorhandig. St. Albans is naby aan waar Hewitt in Addo bly.

“Hy is net na 09:00 na die Medium B-gevangenis geneem waar 'n evaluering gedoen is met betrekking tot sy veiligheidsrisiko en gesondheidsrisiko. Dít is 'n evaluering wat elke nuwe gevangene ondergaan,” sê Zama.

“Die evaluerings behoort teen vanmiddag 16:00 voltooi te wees waarna hy na 'n sel geneem sal word wat sy gesondheidstoestand pas.”