Hewitt se prokureur, Johan Engelbrecht, het Dinsdag aan News24 gesê hoewel hy nog nie die bevel gesien het nie, het sy junior kollega hom ingelig die hof het Bob se appèl teen sy tronkstraf van ses jaar verwerp.

"Ek het nie die konstitusionele hof se bevel gesien nie. Al wat ek weet, is dat sy borgvoorwaardes lui dat hy homself binne sewe dae moet oorgee indien die appèl sou misluk." Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê Hewitt moet homself teen 20 September oorhandig. Johan het gesê Hewitt sou by ’n tronk in Johannesburg moet aanmeld. Daar kan egter ’n reëling getref word dat hy by die St. Albans-tronk in Port Elizabeth toegelaat word. Regter Bert Bam het in Maart verlede jaar vir Hewitt (76) skuldig bevind aan die verkragting van twee vroue.

Lees ook: Bob Hewitt moet tronk toe

Bert het hom in Mei tot agt jaar tronkstraf vir elk van die verkragtings opgelê. Hewitt het die vroue in die 1980’s, toe hulle tieners was, afgerig.

Twee jaar van elke vonnis is opgeskort vir twee jaar op voorwaarde dat hy ’n bedrag betaal op elke aanklag aan die departement van justisie se program om mishandeling van vroue en kinders te bekamp.

Hy het in die 1990’s nog ’n tienermeisie – wie se naam nie bekend gemaak mag word nie – afgerig en is twee jaar tronkstraf opgelê vir haar onsederlike aanranding.

Die vonnisse sal samelopend uitgedien word, wat beteken hy is altesaam ses jaar tronkstraf opgelê.

Hewitt het hom daarna tot die appèlhof in Bloemfontein gewend. Dié hof het die aansoek verwerp en gesê hy’t sy magsposisie misbruik toe hy twee jong vroue verkrag en ’n derde onsedelik aangerand het.

Die hof het sy aansoek om sy tronkstraf van ses jaar te laat omkeer, verwerp en gesê sy roem beteken nie hy verdien spesiale behandeling nie, waarna Hewitt hom tot die konstitusionele hof gewend het.

Bron: News24