Die Live Aid-stigter Bob Geldof sê sy familie is “diep bedroef” oor die dood Maandag van sy dogter die sosiale vlinder Peaches (25).

Die polisie is ontbied na haar afgeleë huis buite Wrotham in Kent, suidoos-Engeland, maar sy is op die toneel dood verklaar. Haar dood word as “onverklaar en skielik” hanteer, maar nie agterdogtig nie, het die polisie gesê.

Peaches, self ’n ma van twee jong seuns, was maar 11 toe haar ma, die televisie-aanbieder Paula Yates, in 2000 op 41 aan ’n oordosis heroïen dood is.

In haar laaste Twitter-boodskap Sondag aan haar 190 000 volgelinge het Peaches ’n foto geplaas waarop haar ma haar as baba vashou, met die woorde “Ek en my ma” daarby.

Haar pa, Bob, wat in 1985 ’n reuse rock-konsert gereël het om vir die hongersnood in Etiopië geld in te samel, het van sy tweede dogter gesê: “Peaches is oorlede. Ons is diep bedroef.

“Sy was die wildste, snaaksste, slimste, skerpste en malste van ons almal.

“Om ‘was’ te skryf, vernietig my van voor af. Wat ’n pragtige kind.

“Hoe is dit moontlik dat ons haar nooit weer sal sien nie? Hoe is dit draaglik? Ons  het haar liefgehad en sal haar vir altyd koester.”

Die sangeresse Lily Allen en Ellie Goulding was van die eerstes wat op sosiale media hulde gebring het.

“My gedagtes is by Peaches se familie in hierdie aaklige tyd,” het Lily, ook ’n ma van twee, op Twitter geskryf. “Ek hoop hulle kan in vrede rou. Peaches, rus in vrede, pragtige meisie.”

Die sangeres Ellie Goulding het bygevoeg: “Al dink jy jy het alles uitgepluis, kan party goed steeds nie verklaar of verstaan word nie. Twee pragtige kinders. RIV Peaches.”

Sharon Osborne het later getwiet dit is “ondenkbaar” wat die familie deurmaak, terwyl die X Factor-magnaat Simon Cowell getwiet het: “Die paar keer dat ek Peaches ontmoet het, was sy ’n oulike, snaakse, warm mens. Baie liefde aan haar familie wat sy agtergelaat het.”

Peaches was die tweede dogter van Bob Geldof en Paula Yates. Hul eerste was Fifi Trixibelle, en Peaches het ’n halfsuster, Heavenly Hiraani Tiger Lily, haar ma se dogter by die oorlede INXS-voorsanger Michael Hutchence.

Peaches se tweede man, Tom Cohen, die sanger van die ontbinde groep S.C.U.M, het gesê: “My geliefde vrou, Peaches, is aanbid deur my en haar twee seuns, Astala en Phaedra, en ek sal hulle elke dag grootmaak met hul ma in hul hart. Ons sal haar altyd liefhê.”

Sy is in 2008 met haar eerste man, die rockmusikant Max Drummey, getroud, maar hulle is die volgende jaar uitmekaar.

Peaches is twee jaar gelede met Tom getroud in dieselfde kerk in Kent waar haar ouers getroud is en waar haar ma se begrafnis gehou is.

Op die dag het sy aan die tydskrif Hello! gesê: “Ek voel altyd haar (Paula Yates) teenwoordigheid, maar veral vandag.

“Ma het van familievierings gehou en sy sou dol gewees het oor Tom en die feit dat ons hier getroud is. Ek weet sy kyk af na my en is bly vir ons.”

Peaches het in haar medialoopbaan vir Britse koerante geskryf en aanbiedingswerk vir TV-programme oor glansmense gedoen.

Die polisie van Kent het in ’n verklaring gesê: “Die polisie is om 1:35 nm op 7 April 2014 na ’n adres naby Wrotham ontbied nadat iemand aangemeld het hulle is bekommerd oor die welstand van ’n vrou.

“Die South East Coast Ambulance Service het ’n vrou van 25 dood verklaar.

“In hierdie stadium word die dood as ’n onverklaarde en skielike sterfte beskou. Beamptes ondersoek die omstandighede rondom die dood.

“Die plaaslike lykskouer is ingelig en ’n nadoodse ondersoek sal na verwagting in die volgende paar dae uitgevoer word,” lui die verklaring.

’n Swart Vauxhall privaat ambulans is kort ná 20:25 die aand onder polisiebegeleiding by die huis weg. -Sapa