Sy is korter as wat hy gedink het, maar “so mooi om na te kyk”. Dit was die Suid-Afrikaanse student Heinrich Koorts se indrukke van haar majesteit, koningin Elizabeth II.

Dit volg nadat hy haar dogter prinses Anne (63) vroeër vanjaar ontmoet het. Anne is die beskermvrou van die koshuis waar hy inwoon. Hy en ’n medestudent, Nehal Das, is na Buckingham-paleis genooi.

[caption id="attachment_56703" align="aligncenter" width="600"]Foto: Die studente Heinrich Koorts en Nehal Das voor die Buckingham-paleis. Foto: Die studente Heinrich Koorts en Nehal Das voor die Buckingham-paleis.[/caption]

“Dit was absoluut fantasties. Sy lyk baie goed vir haar ouderdom.” Elizabeth is nou 87 jaar oud.

Aanvanklik was hy nie baie op sy senuwees nie, maar toe hy met van die gaste begin gesels, het hy agtergekom hy en Nehal is die enigste studente daar tussen hoë kommissarisse en hooggeplaastes. “Toe voel ek skielik so ’n klein bietjie op my senuwees tussen al die groot name.”

Hy vertel die koningin het ’n baie mooi ligblou uitrusting met vier blomborsspelde gedra. “Sy het nie ’n hoed opgehad nie en haar hare was so mooi wit. Dit het nes spookasem gelyk.”

Hulle het omstreeks 11:00 in die balsaal van die paleis ontmoet, waar hulle na ’n klassieke orkes geluister het. In die onthaalkamer is hulle met sjampanje, appel- en lemoensap, salm, sjokolade, koeke en southappies trakteer. Dit was ook hier waar hy gesels het met die koningin se 92-jarige man, prins Philip, die hertog van Edinburg, en prinses Beatrice (25) van York, Elizabeth en Philip se kleindogter.

Die koningin het hom glo uitgevra oor sy studies en verblyf in Londen, asook oor Suid-Afrika. Heinrich vertel die koningin is nie juis vol grappies nie, maar haar man is ’n ander storie. “Hy (Philip) het grappies met ons gemaak en sy het net geglimlag.”

Deur Marelize Potgieter