NOG voor sy bruid deur die swaar houtdeure gestap kom, hoor Zane Kirchner al haar stem deur die kapel weergalm.

Dis ’n opname van ’n liefdesbrief wat sy vir hom voorlees: “Hulle sê die tyd vlieg, maar die tyd het gevlieg omdat ek verlief is op jou. Nou bevind ons ons hier.”

Vir die Blou Bulle se heelagter en Tasneem Riddles, ’n finansiële ontleder en aktrise wat onlangs in 7de Laan gesig gewys het, het hul troudag eindelik aangebreek.

Saam met Zane (26) in ’n kapel in die Goeie Hoop privaat wildreservaat aan die oewer van die Vaalrivier by Barkly-Wes wag 120 gaste. Eindelik kondig ’n klok die bruid se aankoms aan.

Die bruidegom trek aan die nertskleurige krawat om sy nek wat by die antieksjiek tema van die troue pas terwyl sy in die paadjie afstap wat met roosblare besaai is.

Sy wou iets anders as ’n tradisionele wit trourok hê, het Tasneem (ook 26) vroeër vertel.

As aanhanger van Marilyn Monroe wou sy antieksjiek Hollywood-glans en romanse met ’n moderne kinkel hê. Haar sjampanje-en-nertskleurige rok deur Minke van der Merwe van Mink Bridal Collections is van chiffon en satyn. Antieke kant is met die hand op die lyfie en uitklokromp geborduur.

Sien meer foto's en lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 4 November 2010