OP DIE troukaartjie staan daar drie-uur, maar teen halfvier wag Pedrie Wannenburg nog duidelik senuagtig voor die kansel vir sy bruid.

Die son bak neer op die 230 gaste in die daklose kapel by die Lechwe Lodge in Kroonstad. Die bruidegom en sy strooijonkers en oudspanmaats, Victor Matfield, kaptein van die Bulls, en Gurthro Steenkamp, sweet selfs in hul ligte Hilton Weiner-pakke.

Eindelik kom Evette Wessels die kapel binnegestap. Sy is ’n stralende bruid in haar eenvoudige sy-rok, met satynbandjies en ’n gedrapeerde bolyf. Duisende Swarovski-kristalle glinster terwyl sy haar toekomstige man tegemoetstap.

“Die vrou langs jou is die een vir jou, die beste vrou vir jou,” herinner pastoor Henk Barnard die glimlaggende bruidegom. Ewe tradisioneel beloof Pedrie (30) om sy vrou lief te hê, te eer en te beskerm, terwyl Evette (23) beloof om haar man lief te hê, te eer en te gehoorsaam. Dan sing Kesha Charlotte-Perkins van die meisiegroep NKD en een van Evette se strooimeisies, en die sanger Jo F. vir die bruidspaar.

Sien die troufoto's en lees meer in die Huisgenoot van 24 Maart 2011