DIS hoogsomer en die Paarl tril in die hitte. Binne die Toringkerk met sy klipmure en gebrandskilderde glas waai vriende en familie van Flip van der Merwe, slot van die Bokke en die Bulle, en Elodé Malan hulself koel. Hulle wag op die bruid.

Voor in die kerk wag die bruidegom in ’n netjiese swart pak. Dis sy onderbaadjie wat besonders is – swart satyn met ’n handgeborduurde blommotief, en vir ietsie persoonliks, sy en Elodé se name en hul troudatum.

Flip staar by die paadjie af en speel nogmaals met sy das. Sy bruid is 15 minute laat. Dan bemeester die ongeduld hom en stap hy met die paadjie af buitentoe om te kyk of Elodé nog nie kom nie.

Dis hier waar ons hom voorkeer met die vraag wat hy die vorige dag skamerig gesystap het: Wanneer het hy geweet sy is die een?

‘‘Ons was in Junie in die bos en daar was niks behalwe ’n vuur nie en ons het ’n openhartige gesprek gehad,’’ vertel die voornemende bruidegom. “Ek onthou ek het na Elodé gekyk en besef sy is die vrou saam met wie ek die res van my lewe wil deurbring.’’

Dan verhelder sy gesig toe hy die Lexus L450 met sy bruid daarin sien aankom. Hy ken daai motor: Hy het hom nou die dag self uit Kaapstad hierheen gebring as koets vir sy prinses op hul troudag.

‘‘Dit was ’n lekker rit. Dit was ’n plesier om die motor te bestuur. Iets wat jy as petrolkop kan waardeer,’’ sê hy oor sy skouer terwyl hy haastig die kerk ingaan. Dit bring mos ongeluk om jou bruid voor die plegtigheid te sien.

Sien meer foto's en lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 10 Januarie 2011